Local newsNews

Michele Coetzee oorwin kanker

“Ek wil vir elke bloedskenker persoonlik dankie sê dat ek my lewe terug het.”

SECUNDA – Me. Michele Coetzee (33) is ’n mooi jong vrou.

Sy lyk gesond, energiek en lus vir die lewe.

Die enigste teken dat sy ’n kankeroorwinnaar is, is die afgeskeerde hare.

Me. Coetzee is verlede Mei met leukemia gediagnoseer.

“Die internis het my na Pretoria verwys vir beenmurgbiopsies en lumbalepunksies. Kanker is gediagnoseer en ek het op 15 Mei verlede jaar met chemoterapie begin.”

Me. Coetzee het konstante pyn in haar lae rug, buik en pelvis gehad.

“Ek was altyd moeg en die dokter het vermoed dat ek dalk meningitis het.”

Die soort leukemia wat me. Coetzee gehad het, voorkom dat die liggaam self bloed vervaardig.

Sy het twee sakkies bloed per dag ontvang.

Die kanker het ook veroorsaak dat sy geen immuniteit gehad het om siektes te beveg nie en moes in isolasie in die hospitaal behandel word.

Me. Coetzee het gesê: “My niere was besig om in te gee. Ek het net aan die dood gedink. My seuntjies is vyf en 12 jaar oud en my man moes alles in die huis doen. Hy was my rots en het vir vyf maande die rol van ma, pa, sjef en huishouer vervul. Dit was vir my hartverskeurend, maar hy het nie een dag gekla nie.”

Me. Coetzee het 70 eenhede bloed ontvang in die vyf maande van haar behandeling.

Sy het drie sakkies bloedplaatjies drie tot vier keer per week ontvang.

“Ek onthou dat daar tydens my behandeling vir twee dae geen bloed beskikbaar was nie. Die onkoloog kon geen van my medikasie toedien in daardie twee dae nie. Ek moes daar lê en wag totdat daar weer bloed beskikbaar was.”

Me. Coetzee was self ’n gereelde bloedskenker voordat sy met leukemia gediagnoseer is.

“Ek het altyd die motorfietsryers saam met my geneem om bloed te skenk. Jou vrees en skaamte vir naalde kan die verskil tussen lewe en dood beteken.”

Mr. Coetzee het verder gesê: “Bloedskenkers besef nie watter groot liefdestaak hulle verrig nie. Bloed gee ’n ma terug aan haar kinders. Ek wens ek kon elke mens wat vir my bloed geskenk het, persoonlik ontmoet, in die oë kyk en dankie sê. Na elke eenheid bloed wat ek ontvang het, het ek die lewe voel terug kom. Op ’n stadium het ek die doodsengel in die oë gekyk, maar bloed het my lewe gered.”

Haar kinders het verstaan dat sy siek was en gedink die kaal kop is baie modern.

“Hulle was baie besorgd oor my.”

Me. Coetzee het vertel dat sy die eerste ruk na haar diagnose baie kalm was.

“Daarna wou ek opgee, maar my dokters het hard baklei. Ek was op die punt om oor te gee. Die oomblik voor jy sterf, is jy só rustig en die grootste vrede kom oor jou. Ek het geen pyn gehad nie. Mense wat bekommerd is oor geliefdes wat sterwend is, moet weet dat jy rustig en gelukkig is op daardie oomblik.”

Sy het gesê dat om te ontvang, moet jy gee.

“Hou op om die bloedbank te laat smeek vir bloed. Help hulle om lewens te red. Ek vra die gemeenskap om bloed te skenk, dit het my lewe gered. Ek mag nie meer bloed skenk nie, maar julle kan namens my gaan en ander help.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button