Local newsNews

Cedric steeds opgewonde oor die lewe

Linah se gebed het my lewe gered.

SECUNDA – Mnr. Cedric (The Terminator) Doyle (31) het nooit gedink dat sy huishulp se gebed sy lewe sou red nie.

Hy het ’n maand gelede aan ’n gemenge vegkunskampioenskap in die Kaap deelgeneem, waartydens hy teen die Muyu Tai-wêreldkampioen geveg het.

Hy onthou die oggend voor dié geveg het hulle as gesin hande geneem en me. Linah Motshoeneng, hul huishulp, het gevra of sy mag bid.

“Sy het God vir ’n wonderwerk gevra. Haar gebed het my vir ’n oomblik laat wonder of sy in my vermoë as atleet getwyfel het,” het hy laggend vertel. Min het ek geweet dat dit profeties was en dat haar gebed my lewe sou red. Ek besef nou dat die Heilige Gees haar daardie oggend gelei het.”

Mnr. Doyle het na die geveg met hoofpyn, harsingskudding en geheueverlies gesukkel.

Sy dokter het hom vir ’n CT-skandering gestuur wat getoon het dat hy bloeding op die brein het.

Hy is twee dae later in die hospitaal vir ’n noodbreinoperasie opgeneem.

Dit was vir sy vrou en dogtertjie (3) ’n moeilike tyd.

“Ander mense met dié soort besering gaan dood of het permanente neurologiese skade. Dit is drie weke later en ek makeer niks.”

Mnr. Doyle het twee jaar gelede sy lewe aan God gegee.

“My lewe het verander en ek het besef dat jou lewe jou geloof moet reflekteer.”

Mnr. Doyle het in 2012 sy professionele debuut in vegkuns gemaak.

As amateur het hy agt titels gewen en beoefen sy sport as The Dominator.

Hy mag vir die volgende jaar aan geen gevegte deelneem nie en gaan die tyd gebruik om fiks te bly.

Hy wil graag met kinders werk en het gesê dat daar ’n plan vir sy lewe is en dat hy weet sy pad is reeds bepaal.

“Ek gaan nie my droom om ander te help en te inspireer, laat vaar nie. Die operasie het vir my nuwe perspektief op die lewe gegee en hoe vinnig jou lewe kan verander. Ek is bly dat ek nog hier is vir my familie en om my roeping te volbring.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button