
Kasselman Veiligheidsdienste waarsku sakelui om op die hoede vir bedrieërs te wees.
Volgens hulle word ondernemings geld gevra om afskrifte van arbeidswetgewing te bekom.
Die booswigte doen hulle voor as amptenare van die Departement van Arbeid.
’n Onderneming op die dorp is onlangs met die slenterslag gevang waar vier mense, wat in ’n wit voertuig ry, hulle R1 400 gevra het vir ’n plakkaat nadat hulle beweer het hulle is van dié onderneming se hoofkantoor.
Die skelms het ook die Standerton Buiteklub besoek en gesê die plakkaat kos R400, maar die klub het nie enige geld oorhandig nie.
Dit is egter slegs die oortjie van die seekoei.
’n Groep mense, wat voorgee om amptenare van die Department van Binnelandse Sake te wees, besoek huise onder die voorwendsel dat hulle inwoners se identiteitsdokumente nagaan.
Hulle besteel dan die inwoners as hulle eers toegang verkry.
“Ons maan inwoners om nie vreemdelinge in hulle huise toe te laat nie,” het lt. Fanie Nhlabathi, woordvoerder van die Standerton Polisie, gesê.
Hy het ook gesê inwoners en sakelui moet met die polisie in verbinding tree as dié bedrieërs hulle nader.


