AfriForum dien klagte van moord en strafbare manslag by SAPD in
Dít volg nadat Charlene Jacobs, ’n agt-jarige dogtertjie van Leandra, op 10 Augustus omstreeks 3nm doodgeskok het nadat sy aan ’n lamppaal gevat het terwyl sy en ander kinders in ’n straat gespeel het.
SECUNDA – Die plaaslike AfriForum-tak, in samewerking met ’n tak van dié burgerregte-organisasie op Leandra, het op 18 Augustus klagtes van moord en strafbare manslag by die Leandra Polisiestasie ingedien.
Dit is teen twee werknemers van die Govan Mbeki Munisipaliteit, naamlik mnre. Mmela Mahlangu, munisipale bestuurder, en Matimba Masiya, hoof van tegniese dienste.
Dit volg nadat Charlene Jacobs, ’n agtjarige dogtertjie van Leandra, op 10 Augustus omstreeks 3nm doodgeskok het nadat sy aan ’n lamppaal gevat het terwyl sy en ander kinders in ’n straat gespeel het.
’n Onafhanklike deskundige skryf haar dood word aan die onwettige elektrisiteitskoppelings aan dié paal toegeskryf en die feit dat daar geen aarddraad aan die lamppaal gekoppel was nie.
Volgens mnr. Hillel Coetzer, AfriForum se distrikkoördineerder vir Mpumalanga-Wes, het lede van die AfriForum-takke op Leandra en Secunda én Charlene Jacobs se pa op 15 Augustus probeer om ’n saak by die plaaslike polisie te open, maar is geweier.
“Die stasiebevelvoerder het aan mnr. Jacobs gesê dat hy ’n verklaring mag indien, maar net die inligting wat die polisie as belangrik beskou by die verklaring mag insluit.
“AfriForum het dié onregmatige optrede by die nasionale kantoor van die polisie en kol. Nel, waarnemende groepbevelvoerder, aangegee waarna die plaaslike polisiestasie beveel is om AfriForum en mnr. Jacobs te help om die klagtes in te dien.”
Mnr. Coetzer het gesê dat die optrede van mnre. Mahlangu en Masiya krimineel van aard is omdat swak dienslewering en gebrekkige instandhouding, waarvoor dié munisipale beamptes verantwoordelik was, die dood van ’n kind tot gevolg gehad het.
“Dié is nie ’n unieke geval nie; op Standerton is ’n kind ernstig beseer toe hy deur ’n oop kragboks geskok is en AfriForum sal hier ook teen die Lekwa Munisipaliteit optree.
“AfriForum is besig om berading vir die familie te reël.”





