Local newsNews

Jaco wil polisiereservis word

“Dit sal vir my soveel vreugde bring as ek ’n polisie reservis kan word.”

BETHAL – Om sy medemens te beskerm en om ’n verkil te maak, is wat mnr. Jaco Mans dryf.

Hy is al langer as 12 jaar by Bethal se gemeenskapspolisieforum betrokke.

“Niks gee my meer vreugde as om te weet dat ek iemand gehelp of iemand se lewe gered het nie,” het mnr. Mans gesê.

Sy grootste droom was om ’n polisieman te word en hy wil tans steeds meer as enige iets anders ’n polisiereservis word.

“Ek wil die polisie bystaan en help met die take wat hulle moet verrig.”

Mnr. Mans is tans die hoof van Bethal se gemeenskapspolisieforum (GPF).

Hy en sy broer het eers saam met die sektors gewerk en in 2008 besluit om die GPF op Bethal te begin.

“Ons maak beslis ’n verskil, selfs net deur sigbaar te wees help ook,” het mnr. Mans verduidelik.

Hy is lief vir slange en het al skerpioene, spinnekoppe en slange aangehou.

“Ek het op ’n plaas grootgeword en was nog altyd lief vir diere.

“Ons het as kinders baie met slange te doen gekry,” het hy gesê.

Hy het ’n kursus oor hoe om slange te hanteer en ook hoe om met slange te teel, voltooi.

Hy het op ’n stadium sewe broeipare gehad.

Dit is ook hier dat mens sien hoe belangrik dit vir mnr. Mans is om ’n verskil te maak en om ander te help.

Hy het giftige slange gemelk en die gif na Pretoria gestuur waar teengif daarvan gemaak word.

Die gemeenskap kan hom skakel indien daar slange is wat verwyder moet word.

Slangeienaars kan hom ook skakel as hulle vermoed dat hul slang siek is of aggressief optree.

Mnr. Mans is ook ’n langspeelplaatversamelaar en het tans meer as 4 000 plate.

Hy is lief vir oudhede en versamel ook graag unieke antiekstukke.

Bedags is hy ’n sweiser, maar hy meen dat sy werk meer ’n passie as werk is.

“Dit is vir my lekker om van niks iets te maak.

“Om met my hande te werk, voed my siel.

“Ek het al ringe, armbande, horlosiebandjies, tafels, rose en nog baie ander dinge uit staal en hout ontwerp en gemaak,” het hy verduidelik.

As jy by Bethal se GPF wil aansluit, ’n slang uit jou tuin wil laat verwyder of selfs van langspeelplate wil onstlae raak, skakel mnr. Mans by 078 035 2200.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button