Boom val op bejaarde egpaar se huis
“Ons is baie dankbaar vir almal wat ons tot dusver gehelp het en bedank ook almal op die erf wat ons gehelp het, ons waardeer dit baie.”
BETHAL – Die bejaarde Van den Berg-egpaar het met ’n skok wakker geskrik toe ’n groot boom Dinsdagaand, 27 September omstreeks 11.30nm op hul huis geval het.
“Die wind het erg gewaai en ons het al geslaap.
“As die boom op die slaapkamer se dak geval het, was ons dood,” het mnr. Jan van den Berg gesê.
“Ons het wakker geskrik van ’n groot slag en besef dat dit die boom was wat omgeval het.
“Ons het toe nog nie besef hoe ernstig dit was nie.”
Daar is net een ingang tot die huis en die boom het die deur vasgeval.
“Die klippe het op my kop geval en ons het gedink ons gaan nie kan uitkom nie,” het me. Petro van den Berg vertel.
“Die dak het bo die deur begin ingee.
“Ek het my man vasgegryp en na die Here uitgeroep om ons te help.
“Ek was só bang.”
Ander inwoners op die plot waar hulle woon, het hulle na die huis gehaas.
Die diefwering van een van die vensters is afgesaag om die twee bejaardes te red.
Bakstene het op onder andere hul breekware, televisie en ketel geval en dit gebreek.
“Die kaste is ook vol duike en alles is vol glas en stof.
“My DVD-speler is ook stukkend en ek weet nie hoe ons alles weer bymekaar gaan maak nie,” het mnr. Van der Berg gesê.
Die egpaar het nog nie toegang tot die huis nie en dit is te onveilig om in te gaan.
Hulle bly intussen by me. Van den Berg se dogter.
Hulle het vir nou kos en die nodige om oor die weg te kom.
Enige iemand wat ’n bydrae kan maak, kan dit by die Echo/Ridge-kantoor aflaai.
“Ons is baie dankbaar vir almal wat ons tot dusver gehelp het en bedank ook almal op die erf wat ons gehelp het, ons waardeer dit baie,” het mnr. Van den Berg gesê.








