Kansa bedank vrywilligers
Kansa se netwerk van vrywilligers bestaan uit mense wie se lewens op ’n manier deur kanker geraak is.

SECUNDA – Vrywilligers is wêreldwyd vereer vir hul diens op Maandag, 5 Desember tydens Internasionale Vrywilligersdag.
Kansa het ook hul vrywilligers wat so toegewyd werk om ’n positiewe verskil in die lewens van kankeroorwinnaars te maak, vereer.
Me. Elize Joubert, Kansa se hoof uitvoerende beampte, het gesê: “Sonder ons netwerk van bykans 7 000 opgeleide vrywilligers sal ons nie in staat wees om ons holistiese sorg- en ondersteuningsprogramme te kan lewer nie.
“Dit is ’n diens wat kankeroorwinnaars en hul gesinne landwyd bitter nodig het.”
Me. Joubert het verder gesê: “Ons kan nooit vir dié mense genoeg dankie sê nie.
“Ons weet hoe hoog ons hulle ag en hoe Kansa die bydrae wat hulle lewer, waardeer.
“As ’n nie-winsgewende organisasie maak ons staat op die vrygewigheid van ander en ons vrywilligers is altyd bereid om alles te gee om kankerpasiënte, hul gesinne en Kansa by te staan.”
Kansa se netwerk van vrywilligers bestaan uit mense wie se lewens op ’n manier deur kanker geraak is.
Hulle is of was self kankeroorwinnaars of ken iemand wat teen kanker baklei het.
“Of jy die geveg teen kanker wen of verloor, jy bly ’n kankeroorwinnaar.
“Dan is daar ook mense wat doodeenvoudig hul hulp aanbied en ’n verskil in die lewens van ander maak,” het me. Joubert gesê.



