Local newsNews

Doen-dit-self inentings gevaarlik vir troeteldiere

Hoewel die koste van veeartsbesoeke soms duur lyk, is dit steeds goedkoper om jou troeteldier in te laat ent as om jou dier te probeer gesond kry.

SECUNDA – Om ’n troeteldier te besit, kom met baie verantwoordelikhede, insluitende opleiding, gebalanseerde voeding en aandag gee.

Een van die mees omstrede van dié verantwoordelikhede is egter die eienaar se plig om sy troeteldier gereeld teen siektes te laat inent.

Volgens ’n plaaslike veearts is die doel van dié inentings om jou troeteldier teen virale en bakteriële infeksies te beskerm waaraan hy blootgestel word.

Hy het gesê dit maak nie saak of jou troeteldier grootliks binne jou huis bly nie, want dié siektes kan op verskeie maniere aan jou troeteldier oorgedra word.

Sonder die beskerming wat gereelde inentings hom bied, staan hy die kans om ernstig siek te word.

Baie troeteldiereienaars meen dit is te duur om jou dier jaarliks te laat inent, maar die alternatief is gewoonlik nie net duurder nie, maar ook gevul met hartseer omdat baie van die voorkombare siektes ernstige gesondheidsrisiko’s inhou.

Dit is goedkoper om ’n gesonde troeteldier gesond te hou, as om ’n siek hond te behandel vir ’n siekte wat vermy kon word.

Dit is belangrik om troeteldiere volgens die voorgeskrewe skedule in te ent omdat die inentings daarop staatmaak dat die dier se immuunstelsel sekere teenliggame moet vrystel.

Sodra die hond weer in kontak kom met die spesifieke siekte, sal sy immuunstelsel die teenliggame gebruik om hom te beskerm.

Volgens die plaaslike veearts is daar verskeie diere-eienaars wat deesdae self hul diere inent met entstof wat hulle op verskillende plekke bekom.

“Die probleem hiermee is dat baie van die enstowwe net werk as hulle teen die regte temperatuur gestoor is.

“Selfs ’n kort rukkie by ’n té hoë temperatuur, kan die enstsof nutteloos maak en die dier is dan nie beskerm nie.

“Wat dan gebeur is dat mense hul vertroue in inentings verloor, want hulle dink die enstof werk nie omdat die hond in elk geval siek geword het, maar hulle verstaan nie dat dit oor die proses gaan wat verkeerd gevolg is nie.”

Ander probleme wat hy al teëegekom het, is dat mense honde of katte wat reeds siek is, inent.

“Inentings is voorkomend, nie genesend nie en dit kan baie gevaarlik vir die dier se gesondheid wees om hom in te ent as sy immuunstelsel reeds verswak is.”

As ’n veearts jou troeteldier inent, neem hy verskeie aspekte in ag voordat hy besluit watter inenting jou dier moet kry.

Dit sluit jou hond se leefstyl, algemene gesondheid, ouderdom en moontlike blootstelling aan siektes in.

Die veiligste en verantwoordelikste ding om te doen, is om jou troeteldier deur ’n veearts te laat inent en daarna die ente jaarliks te kry soos wat jou veerarts voorskryf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button