Motorfietsklub beywer hulle vir liefdadigheid
“Ons is nie in kompetisie met enigiemand nie,
Lone Buddy MCC, ‘n plaaslike motorfietsklub, het groot planne vir die nuwe jaar.
Dié klub is in November verlede jaar as ‘n nie-winsgewende maatskappy geregistreer en het verskeie projekte in die pyplyn.
Hulle was verlede jaar tesame met die ander motorfietsklubs op die dorp by die Cansa Relay for Life betrokke.
Volgens me. Debbie Bam en mnr. Paul Bester will hulle ook vanjaar aan die Relay for Life meedoen.
Die Kinderhuis op Vrede se kinders is ook in die feesseisoen bederf waar sewe uit die 13 fietse gekry het wat juis op hulle wenslysies was.
Van Kalie Klitsies se kleuters se dors is ook November verlede jaar geles.
Me. Bam en mnr. Bester beywer hulle om die beeld van motorfietsryers reg deur te gee waar die publiek hulle soms teen tatoeëermerke, baarde en brullende enjins blindstaar.
Hulle sou graag die geleentheid gebied word om leerlinge oor drank- en dwelmverslawing in te lig en sal ‘n kenner op die gebied inspan om die gevare daaraan te beklemtoon.
Met behulp van ander organisasies en weldoeners op die dorp, word behoeftige gesinne geïdentifiseer wat met kos en klere bygestaan word.
Om in die groeiende behoefte te voorsien, word donasies verwelkom wat benewens ‘n geldelike bydrae ook persoonlike higiëniese produkte insluit.
Donateurs kan by Eerste Nasionale Bank, takkode 270443, rekeningnommer 62657060217, ‘n kontantbydrae maak wat aangewend sal word om ‘n verskil aan hulpbehoewendes se lewens te maak. Die klub sal voortgaan met geldinsamelingsprojekte en ‘n sopkombuis word vir die winter in die vooruitsig gestel.
“Ons is nie in kompetisie met enigiemand nie, maar wil nou met organisasies saamwerk,” het me. Bam gesê.
Skakel me. Bam by 072 657 1293 of mnr. Bester by 082 878 9075 vir enige navrae.



