Sasol steek helpende hand uit
Die opgradering van die netwerk sal oor die verloop van ’n paar jaar geskied.
’n Sasol-donasie kan die elektriese netwerkprobleme op Standerton moontlik verbeter.
Die Lekwa Munisipaliteit het reageer op ’n navraag wat gedurende Desember verlede jaar aan hulle deur die Standerton Advertiser gestuur is.
Die koerant het berig oor bewerings dat Sasol gereedskap en toerusting aan die munisipaliteit gaan skenk.
Me. Thobeka Mtshiselwa, woordvoerder van die munisipaliteit, het bevestig dat die munispaliteit ’n donasie van Sasol te wagte is.
Sy gesê die skenking sal vir instandhouding van die elektriese netwerk en herstelwerk aangewend word.
Volgens haar onderhandel Sasol tans met kontrakteurs om die elektriese foute op kabels op Standerton te herstel.
Me. Mtshiselwa het gesê die opgradering van die netwerk sal oor die verloop van ’n paar jaar geskied.
Sy het ook gesê dat die munisipaliteit se toerusting weens ouderdom opgegradeer moet word en dat daar volgens die jaarlikse voorraadopname geen verlore gereedskap of toerusting aangedui word nie.
Volgens haar het elke elektrisiën in diens van die munisipaliteit ’n gereedskapkis wat alles bevat wat nodig is om hulle werk te doen.
Sy het bygevoeg dat die munisipaliteit die donasie verwag sodra Sasol hulle verskaffingsproses afgehandel het.



