Boere is rooi onder die kraag oor mynprojek
Witfonteinmynprojek gaan die oorsaak wees van baie mielie- en graslande wat verwoes word.
BETHAL – Canyoncoal het onlangs aansoek gedoen om nóg dele van die Hoëveld uit te hol.
Dié projek word die Witfonteinprojek genoem en is op Bethal gebaseer.
Die Witfonteinprojek gaan die oorsaak wees dat baie mielie- en graslande verwoes gaan word.
Dit sal ook Bethal in geheel raak, asook die paaie rondom Bethal omdat dié projek so naby aan Bethal sal wees.
Dit is ’n Greenfield-projek wat Canyoncoal sedert die ontstaan van die projek besit.
Canyoncoal het reeds die boorproses voltooi en die aansoek om mynregte te verkry, ingedien.
Die gehalte van steenkool is vir plaaslike verbruik en die uitvoermark.
Beplande maandelikse produksie is 100 000 ton ROM-steenkool.
Meeste mense is van mening dat die inligting wat deur Canyoncoal gegee is, onvolledig en misleidend is.
Daar word nie genoem waar presies daar gemyn gaan word nie en wat dit alles gaan behels nie.
Die maatskappy is tans met ’n impakstudie besig en sal daarna verskeie opsies oorweeg.
“Hulle wil myn, maar ons meen dat dit nie in die beste belang van die omgewing is nie.
“Ons kan nie kommentaar lewer, inligting gee of beswaar aanteken nie, want ons het nie inligting nie,” het een van die partye wat geraak word, gesê.
Daar is ook vervoeringenieurs wat na die verskillende vervoeropsies kyk.
Die partye wil ook weet waarom Canyoncoal nie die mynregte aan Sasol kan verkoop nie, omdat Sasol reeds ondergronds myn en van ’n vervoerband gebruik maak om die steenkool te vervoer.
’n Boer het tydens die vergadering gesê: “Boere is bodembewaarders en myners is bodemverwoesters.
“Die ou wat daar myn, gaan eendag vir sy kinders en kleinkinders moet gaan wys en sê: ‘Sien jy dié grond? Oupa het die grond so opged*@$er’.”
Canyoncoal het genoem dat hul projek slegs 10 jaar sal duur, maar op ’n video op hul webblad word daar gespesifiseer dat so ’n projek tot 21 jaar kan aanhou.
Inwoners meen ook dat die mense wat die impakstudies doen, ten gunste van die mynprojek sal wees.
Gaan na die Ridge Times se webblad www.ridgetimes.co.za vir meer inligting en om na die video te kyk.
Op die video is dit duidelik wat met die omgewing gebeur nadat daar gemyn word.



