Deeltiteleienaars soms in die duister
Die goue reël vir ’n voornemende koper is om homself van die gedragsreëls te vergewis wat misverstande en onaangenaamheid uit die weg sal ruim.
Standerton is deel van ’n groeiende getal behuisingsopsies waarvan deeltitelkomplekse ’n gewilde keuse is.
Verwarring rondom die regte van so ’n eienaar en die rol van die trustees om gedragsreëls af te dwing, is soms ’n tameletjie.
’n Rubriek in ’n nasionale koerant, geskryf deur ’n prokureur, mnr. Tertius Maree, poog om onduidelikhede uit die weg te ruim.
Volgens mnr. Maree kan die rol van die eiendomsagent en gepaardgaande verantwoordelikheid by die kooptransaksie nie onderskat word nie.
Aanhou van troeteldiere dryf die diereliefhebber sowel as die trustees gereeld die mure uit.
Die voorgeskrewe gedragsreëls bepaal dat niemand ’n troeteldier mag aanhou sonder die skriftelike toestemming van die trustees nie wat verder insluit dat toestemming nie sonder goeie rede geweier mag word nie.
“Mense wat troeteldiere sonder toestemming aanhou, is ’n probleem,” het ’n voormalige voorsitter van ’n beheerliggaam, mnr. Sarel Botes, gesê.
“Die diere veroorsaak skade aan eiendom.”
Huurders en eienaars word deur die gedragsreëls gebind.
Mnr. Maree is van mening dat ’n eiendomsagent ’n etiese verantwoordelikheid het om ’n koper oor die inhoud van die gedragsreëls in te lig.
“Ek stem heelhartig saam,” het mnr. Gerhard Degenaar van Henchristo Eiendomme gesê.
Mnr. Maree het ook aangedui dat parkeerplek vir motors ’n groot probleem is.
Hoewel Standerton nou nie wolkekrabbers het met ’n dringende behoefte aan parkeerplek nie, word parkeerplekke by sommige komplekse misbruik byvoorbeeld om ’n motorhuis as pakplek te gebruik of om op plekke vir besoekers te parkeer.
Die goue reël vir ’n voornemende koper is om homself van die gedragsreëls te vergewis wat misverstande en onaangenaamheid uit die weg sal ruim.



