Local newsNews

Boere moet kundig belê vir die toekoms

"Oordeelkundige beleggings dien ook as verskansing teen die onsekere tye waarin boerdery in die land homself bevind."

Die TLU-Oosstreek het verlede Woensdag ’n vergadering gehou waartydens verskeie kundiges boere ingelig het oor beleggingsmoontlikhede in beide die plaaslike, sowel as die internasionale markte.

Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder TLU SA, het gesê die doel van die vergadering was om boere die geleentheid te bied om hulle finansiële sake in orde te kry en hulle genooi om kundige raad te bekom om te verseker dat plase in die huidige onsekere tye nie verlore gaan nie.

“Oordeelkundige beleggings dien ook as verskansing teen die onsekere tye waarin boerdery in die land homself bevind,” het hy gesê.

Hy het ook namens Agri-All Africa hulp en raad aan boere gebied en die belangrikheid van verspreide beleggings tuisgebring om boere in Afrika en elders te help om kundig en winsgewend te boer.

Mnr. Van Zyl het Georgië as voorbeeld voorgehou en die voordele daarvan om in dié land te boer, uitgelig.
“Toere word gereël om boere die geleentheid te bied om eerstehands te sien hoe suksesvol daar in die verte geboer kan word.“

Me. Elbie Thatcher, ’n fidusiêre spesialis van Old Mutual Wealth, het die voordele en fynere detail van trusts uitgelig en raad gegee oor hoe daar te werk gegaan moet word om finansiële kontinuïteit in boerdery te verseker.

“Al te dikwels beland boere in ’n verknorsing omdat hulle nie op hoogte is van wat presies in hul trustportefeuljes staan nie.”

Op sy beurt het mnr. Louis Fourie, privatekliënte-portefeuljebestuurder van Old Mutual Wealth, boere ingelig oor die voordele van doelgemaakte beleggingsportefeuljes.

“Beleggers het toegang tot die plaaslike sowel as die wêreldmarkte, maar daar moet in gedagte gehou word dat die markte wisselvallig is. Daarom moet daar liefs na wêreldbekende handelsname in boerdery gekyk word,” het hy gesê.

Boere is genooi om diê kenners privaat te raadpleeg en gebruik te maak van hul raad en dienste.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button