Local newsNews

Honde het nou hul eie ‘hotel’ buite Secunda

Mense kan ook hul honde vir die dag na Sniff Snuff neem wanneer hulle wil hê die hond moet gebad en geskeer word, maar nie kan wag nie.

SECUNDA – Me. Ria Joubert pas al vir jare haar vriende se honde en katte op omdat sy lief is vir diere.

“Ek wou nog altyd ’n plek geskep het waar mense hul diere met ’n geruste hart kan los en weet dat ons na hulle sal omsien.

“Nadat ek uitgevind het dat daar nie meer hondehokke in die omgewing is waar mense hul honde kan los nie, het ek geweet die tyd het aangebreek om my eie hondehokhotel te begin,” het me. Joubert vertel.

Sy het reeds in 2009 met haar eie hondehokhotel begin en het net sewe hokke gehad.

Sniff Snuff Kennels het tans 70 honde- en 18 kathokke.

Nadat me. Joubert meer hokke gebou het, het sy by die niewinsgewende organisasie Little Paws Big Hearts aangesluit.

Dié organisasie het gereeld ’n plek nodig waar hulle honde en katte wat van ’n besering moet herstel of wat wag om aangeneem te word, moet hou.

Me. Joubert hou gereeld van Little Paws Big Hearts se honde en katte daar.

“Ons neem egter glad nie diere in wat aansteeklike siektes het nie.

“Honde moet ook hul spuite gehad het voordat ons hulle inneem.”

Me. Joubert se skoondogter, me. Chantelle Joubert, het in 2010 by haar aangesluit en ’n jaarkursus voltooi waar sy geleer het hoe om honde se hare te sny, te skeer en te vorm.

Honde-eienaars kan dus hul honde laat was en skeer ook.

“Mense sê hul diere kom spa toe wanneer hulle na ons toe kom.

“Die diere word hier gebad, geborsel en geskeer en baie bederf.

“Ons kyk na mense se diere asof dit ons eie diere is en die diere word later net so lief vir ons soos ons vir hulle.

“Baie mense laat hul honde uit die motor klim wanneer hulle by die hek inry en dan hardloop die honde na ons toe.

“Ons leer elke hond se geite ken en weet al watter toertjies hulle sal probeer uithaal,” het me. Joubert verduidelik.

Sy het nie al net na honde en katte omgesien nie, maar ook al na ’n vark, voëls, ’n goue vis, hasies, krimpvarkies, marmotte en apies.

Hulle het al honde gehad wat soggens hul tee moes kry en een wie se eienaar vir hom daagliks ’n T-been gaarmaak.

“Sommige mense draai vir hul honde geskenkies toe wanneer hulle tydens die hond se verjaardag by Sniff Snuff gaan wees.

“Ander gee ook Kersgeskenke vir hul honde wat ons Kersoggend vir hulle gee.

“Ek stuur ook baie keer vir eienaars foto’s om vir hulle te wys dat hul diere gelukkig is.

“Baie skakel om te hoor hoe dit met hul diere gaan of keer ’n dag vroeër terug,” het me. Joubert verduidelik.

Mense kan ook hul honde vir die dag na Sniff Snuff neem wanneer hulle wil hê die hond moet gebad en geskeer word, maar nie kan wag nie.

Sniff Snuff kyk na enige dier, hetsy groot of klein.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button