Watter impak gaan nuwe steenkoolmyn op Bethal-boere hê?
Slegs ’n klein deel van die reserwe gaan deur middel van oopgroefmetodes gemyn word en bykans 95 persent gaan by wyse van ondergrondse mynboumetodes gemyn word.

BETHAL – Canyoncoal beplan om op plase naby Bethal te myn, wat met skietwerk gepaardgaan.
Die Witfonteinmynprojek word rondom en naby Piekspruit beplan.
Piekspruit voer die Olifantsrivier wat water aan baie dorpe voorsien.
Volgens Canyoncoal verduidelik gedeelte 9.2 van die bestekstudieverslag alle stappe en aksies wat geneem is om die gemeenskap en ander partye van die Witfonteinmynprojek in kennis te stel.
Daar is ook ’n informele nedersetting in die gebied geïdentifiseer waar inwoners in Zoeloe en Xhosa gekonsulteer is.
Boere meen dat alle partye nie kennis van dié mynprojek dra nie.
Die maatskappy wil teen die tweede helfte van 2018 met konstruksie begin.
Dit is aan goedkeurings en lisensies onderhewig.
Die myn se voorgestelde lewe is 10 jaar.
EXM voltooi tans hidrologiese (oppervlak water) en geohidrologiese (ondergrondse water) studies om die impak op water te identifiseer en aanbevelings oor waterbestuur te maak.
’n Vleilandstudie word ook onderneem om na die omgewingsaspekte te kyk en bestuursmaatreëls te identifiseer.
EXM het ’n rehabilitasieplan ontwikkel wat die finale grondgebruik insluit en voorstel hoe konstruksie moet plaasvind sodat die omgewing so ver moontlik herstel word tot en met sy oorspronklike funksionaliteit.
’n Sleutelaspek is om te verseker dat geen besoedeling plaasvind na afloop van mynbou-aktiwiteite nie en dat die grond ekonomies gebruik kan word.
Hoewel hulle rehabilitasie noem, het ’n boer gevra dat hulle hom na een myn toe moet neem wat gerehabiliteer is, maar hulle kon nie.
As deel van hul mynregaansoek, het Canyoncoal ’n sosiale en arbeidsplan ingedien waarin hulle gemeenskapsprojekte geïdentifiseer het in samewerking met Govan Mbeki Munisipaliteit.
Die projekte sal afskop sodra hulle met mynbou-aktiwiteite begin.
As deel van die plan, het hulle ook onderneem om jaarliks ’n sekere bedrag op beurse en opleiding te verseker.
Verskeie vervoermetodes en roetes is tydens Canyoncoal se lewensvatbaarheidstudie ondersoek en bestudeer.
Dié metodes en roetes, sowel as verwante impakte – sosiaal, omgewing en ekonomie – sal deel vorm van die bestekstudie wat tans deur EXM onderneem word.
Op die diepste plek is die reserwe bykans 128m onder die grondoppervlakte.
Slegs ’n klein deel van die reserwe gaan deur middel van oopgroefmetodes gemyn word en bykans 95 persent gaan by wyse van ondergrondse mynboumetodes gemyn word.
Die impak op die omgewing tydens ondergrondse mynbou is aansienlik minder as oopgroefmynbou.
Daar gaan vir die oopgroefgedeelte wat sowat 12 maande sal duur, plofstof gebruik word.
EXM is aangestel om ’n omgewingsimpakstudie te onderneem vir die moontlike ontwikkeling van die Witfontein Steenkoolmyn. EXM is onafhanklik van die aansoeker en is ’n span wetenskaplikes.
Die resultate van die omgewingsimpakstudie (OIS) word by die Departement van Minerale Hulpbronne ingedien sodat hulle ’n besluit kan maak of die ontwikkeling kan voortgaan en op watter voorwaardes.
EXM voltooi tans 15 spesialisstudies om die impak op water, vleilande tot stof en die ekonomie te identifiseer.
Hulle behartig ook die proses om aansoek te doen vir ’n watergebruikslisensie.
Deel van die OIS is om ’n publieke deelnameproses te onderneem.
Die doel hiervan is om lede van die publiek betrokke te maak om hul kommentaar, bekommernisse en kwessies in te samel en te oorweeg tydens die OIS.
Hulle is byna ’n derde deur die proses met die OIS, die grootste en belangrikste fase wat nou gaan afskop nadat kommentaar van die bestekstudie in ag geneem word.



