Amanda vertel waarom haar hare pers is
Go Purple Foundation is ’n organisasie wat mans, vroue en kinders help om ’n pad van genesing te stap na verkragtig, molestering en geweld.
TRICHARDT – Me. Amanda Haywood ken die pad van misbruik en geweld as kind.
Sy het baie traumatiese ondervindings as kind en volwassene deurgemaak.
“Ek was in ’n diep gat en het agtergekom dat slegs God my daardeur sou kon kry en het met ander oë na die wêreld gekyk nadat ek 11 jaar gelede waarlik tot bekering gekom het.
Haar man het 33 jaar vir ’n plaaslike onderneming gewerk, maar daar is oor hom geprofeteer dat hy voltyds vir die Here sal begin werk.
Die egpaar het hul eie selgroep begin wat later tot ’n gemeente gegroei het.
River of Love Ministries bestaan reeds 10 jaar.
“Dit is ’n voorreg om te sien wat die Here al alles deur en met ons gedoen het.
“Ons kan die wonderwerke van God sien gebeur en wat nog meer wonderlik is, is dat ons ander mense deur die genade van God kan help,” het me. Haywood vertel.
Groot veranderinge het in haar lewe gekom nadat sy van die Go Purple Foundation gehoor het.
Dit is ’n organisasie wat mans, vroue en kinders help om ’n pad van genesing te stap na verkragtig, molestering en geweld.
Die stigter van die organisasie het op Secunda oor die Go Purple Foundation getuig en me. Haywood het dadelik geweet dit is waarby sy betrokke wou raak.
“Ek het geweet daar is baie mense wat met groot seer rondloop en dat daar ’n behoefte vir ’n organisasie soos Go Purple is wat mense help.
“Wat my aangegryp het, is dat hulle nie net op vroue en kinders fokus nie, maar ook op mans wat deur trauma is.
“Dit is vir my belangrik om ’n verskil te maak en Go Purple is die regte organisasie om mee te begin,” het me. Haywood gesê.
Sy het in 2015 haar hare op die verhoog tydens een van die organisasie se byeenkomste pers gekleur.
“Dit het vir my gegaan oor ‘boldness’ en om te wys wat ek bereid is om vir die Here te doen.
“My gesin het my van die begin af ondersteun.
“Dit is nie altyd gemaklik of maklik nie.
“Baie mense praat oor my pers hare, maar ek gebruik dit dan as ’n geleentheid om met hulle oor Go Purple te praat.
“Dit is glad nie ’n ‘fashion statement’ nie,” het sy verduidelik.
Selfs me. Haywood se kleindogter vertel vir mense dat haar ouma se hare pers is omdat sy mense help wat seer het.
“Dit maak my hartseer dat daar nie samewerking tussen mense is nie, veral dié wat weet wat om te doen in die soort situasies waarmee ons werk.
“Daar is heeltemal te min hande en ek soek mense wat wil saamwerk en help om iets volhoubaar te bou.”
Me. Haywood bemark ook tans ’n Christelike tydskrif, Lady Rose, wat veral vroue die kans bied om hul eie ondernemings te begin.
Kussingslope met Bybelverse op en profetiese parfuum is een van die ander stokperdjies waarmee sy haar besig hou.
“As mens kyk na van die name van vandag se parfume, is dit skrikwekkend.
“Mense besef nie wat hulle oor hulself uitspreek nie en daarom het ek besluit om die profetiese parfuum te verkoop.
“Daar word oor die parfuum gebid en elke geur het ’n ander betekenis,” het sy vertel.
Me. Haywood se droom is om Go Purple in die streek te laat groei en soveel mense moontlik te help.
Hulle het tans nog vrywilligers nodig, asook ’n plek waar hulle slagoffers kan bedien en help om te genees.
As jy by me. Haywood se span wil aansluit, skakel haar by 082 446 0013.



