Daniël Nelson word begrawe
Daniël Nelson se roudiens word vandag vanuit die Volle Evangelie Kerk op Secunda gehou.

- OPVOLG: Dinsdag, 11 April







OPVOLG: Vrydag, 7 April
SECUNDA – Daniël se ouers kort nog R5 500 om hul seuntjie te begrawe.
Hulle het gehoop om hom op 11 April te begrawe, maar kon nog net R1 500 van die R7 000 wat vir die begrafnis benodig word, bymekaarskraap.
As jy kan help, skakel asseblief Daniël se ma, me. Tanya Nelson, by 081 463 0470 of me. Annetjie Otto by 076 186 1625.
SECUNDA – Daniël Nelson (3) wat in Augustus verlede jaar met die genadelose siekte Neuroblastoom gediagnoseer, is vanoggend, 6 April om 2.10vm dood.
Die kanker het aggressief na sy brein versprei.
“Ek het al so baie gehuil dat ek eintlik siek voel,” het ’n emosionele me. Tanya Nelson, Daniël se ma, vertel.
Omdat Daniël se kanker in fase vier was, was dokters onseker hoe lank hy nog sou leef.
Hulle kon ook glad nie op hom opereer nie omdat Neuroblastoom in die senuweeselle groei.
Sy ouers se wens vir hom was dat hy Ushaka Marine World in Durban kon besoek omdat hy baie lief vir visse en hengel was.
Nadat die Ridge Times oor Daniël berig het, het lesers se meegevoel asook skenkings vir hom ingestroom.
’n Anonieme borg het vir die gesin van vier se vliegtuigkaartjies na en vervoer en verblyf in Durban betaal.
Die gesin het op 19 Maart na Durban gevlieg en op 26 Maart teruggekeer.
“Ons is in Durban en Daniël is nou besig om roomys te eet,” het ’n opgewonde me. Nelson tydens ’n telefoniese gesprek vanuit Durban vertel.
“Hy het nou net die groot visse in die akwarium gesien en was baie opgewonde.
“Dit is so lekker hier en ons almal ontspan heerlik.

“Ons weet nie wie dit is wat vir alles betaal het nie, maar ek wil net vir julle dankie sê, julle is ‘awesome’.
“Dankie dat julle my seuntjie se droom kon laat waar word.”
Daniël het selfs die kans gehad om van die visse te voer.
Die gesin beplan om Daniël Dinsdag, 11 April te begrawe, maar het nog nie genoeg geld vir die begrafnis nie.
“Die begrafnis kos R7 000 en ons kon nog net ’n klein bietjie geld bymekaar skraap om my seuntjie te begrawe,” het sy gesê.
Mense het hul meegevoel op Facebook met die gesin gedeel:
Me. Marika le Roux: “Baie jammer Tanya en Charlie, my hart is stukkend. Hy was so klein, pragtig en bekkig. Dit is ’n groot verlies.
“Tanya, my hart gaan uit na jou, jy was deur baie.
“Dink aan julle. Rus sag kleine mens,”
Me. Rita Beytell het geskryf: “Nee man! Kan dit waar wees? Ons innige meegevoel vir mamma en pappa, sussie en die hele familie en vriende.”
As daar enige iemand is wat ’n bydrae op enige manier vir die gesin kan maak, kan hulle me. Nelson skakel by 081 463 0470 of me. Annetjie Otto by 076 186 1625.



