Van rowwe ‘Jack’ tot man van die Woord
Vandag besef hy hoeveel kanse die Here hom gegee het want hy het al vyf bakkies gerol en dié ongelukke en ’n motorfietsongeluk oorleef.

Riaan Beukes se lewensvreugde is aansteeklik.
“Ek wil die Here loof” is sy gunsteling sêding en hy neurie dié liedjie gereeld.
Riaan is 47 jaar gelede op Ermelo gebore en het sy skoolloopbaan hier voltooi.
Hy het rugby geniet en in sy matriekjaar was hy kaptein van EHS se tweede span waar dié span die enigste in die skool was wat die Suid-Oos Liga gewen het.
Ná skool is hy weermag toe en is vir die 1 Valskerm Bataljon gekeur.
Hy beleef dit as ’n groot eer om in die spesiale magte te kon wees en het gesê dat nie almal fisies en geestelik sterk genoeg is om in dié bataljon te wees nie.
Riaan het in 2000 in die mynwese begin werk as ’n leerlingmyner en deur harde werk en baie genade het hy homself tot mynbestuurder bekwaam.
Hy het egter buite werksure ’n ander lewe gelei.
Baie drink en kuier in kroeë saam met ’n kort humeur het veroorsaak dat hy gereeld in vuisgevegte betrokke geraak het.
“Ek het alles gehad wat geld kon koop en was “the man of the moment,” het Riaan gesê
“Die wêreld was my woning, maar ek kon nie die drank hanteer nie en dit het die lelik uit my gebring.”
By feitlik al sy aktiwiteite soos valskermspring, ski in Oostenryk, rugbykyk op Twickenham in Londen, diepseevisvang en diepseeduik was daar altyd drank betrokke.
Vandag besef hy hoeveel kanse die Here hom gegee het want hy het al vyf bakkies gerol en dié ongelukke en ’n motorfietsongeluk oorleef.
“Ek is die Here se witbroodjie,” kon hy sê.
Tot op 26 Augustus 2016.
Riaan was op die pad tussen Hendrina en Middelburg op sy twee-weke-oue motofiets toe hy vir ’n oomblik fokus verloor en van die pad af gery het.
Hy het die motorfiets terug op die pad probeer stuur, maar het in ’n gat gery en is paalhoogte die lug in geslinger.
Hy was vir drie maande in die Wilgers Hospitaal in Pretoria se intensiewe eenheid, onder verdowing, in ’n koma, en het gesê dat drie maande uit sy lewe gesny is waarvoor hy nie rekenskap kan gee nie.
Volgens medici was die kans dat hy sou oorleef so skraal dat hulle op ’n stadium vir sy ouers toestemming gevra het om die lewensondersteuningsmasjiene af te skakel.
Die dokters het ook gereken dat indien hy sou oorleef, hy verstandelik gestremd sou wees.
Sy ouers het in ’n gastehuis gebly om naby hom te wees en veral sy ma, was feitlik die hele tyd langs sy bed.
Sy boodskap aan almal wat nog ouers het, is om hulle te eer want hy het die waarde van sy ouers en alles wat hulle gedoen het, om van te getuig.
Gebedskettings is landwyd gestig om vir Riaan se herstel te bid.
Na drie maande het hy sy oë oopgemaak en die eerste gewaarwording was dat hy die Here in sy lewe soek met ’n oorweldigende dankbaarheid dat hy lewe.
Hy is ontslaan en sy skoonsuster, Brenda, het ’n hospitaalbed gereël sodat hy sy rehabilitasie op Ermelo kon doen.
Die man wat voor die ongeluk 100kg geweeg het, het toe 55kg geweeg en was baie swak.
Hy het groot dankbaarheid vir die fisioterapeut, Janique en biokinetikus, Annalize Prinsloo wat na sy huis toe gekom het om hom te behandel.
Dit was ’n lang en uitputtende pad en aanvanklik was sy doelwit om een keer ’n week regop in die bed te sit.
Dit alleen was moeilik, maar hy het vasgebyt en stadig, maar seker, sterker geword.
Toe is daar weer slegte nuus toe sy ortopeed, dr. Phillip Spies, al die pad van Pretoria opgedaag het om te sê dat hy geen ander keuse het as om sy been bokant sy knie te amputeer nie, weens bakterieë in die been.
Sy antwoord aan die arts was:“Tussen jou en die Here is julle die kundiges en ek sal my berus en die Here se wil laat geskied”.
Hy is terug Wilgers hospitaal toe, die operasie is op 23 Februarie verlede jaar gedoen en ’n week later was hy terug by sy ouerhuis.
Sy behandeling is aangepas en hy het ook vir swemlesse by Annalize gegaan.
Hy het begin rondbeweeg, maar was afhanklik van sy ma om hom rond te ry.
Vandag bestuur hy weer self sy outomatiese bakkie en doen alles vir homself en het sedert 26 Augustus 2016 nog nooit weer ’n druppel drank gedrink nie.
Hy het gesê dat hy bevry is van die drankduiwel.
Riaan is geskei en die pa van twee kinders, Antonette (10) en Zach (6).
Hy is baie lief vir hulle en sien hulle so gereeld as moontlik.
Hy kan nie meer al die dinge saam met hulle doen wat hulle altyd gedoen het nie, maar vergoed op ander maniere daarvoor.
Hulle het twee hase gekoop met die gepaste name ‘wit haas’ en ‘bruin haas’ en die hase verskaf aan hom en die kinders baie plesier.
Hy het met ’n glimlag gesê dat hy beskikbaar is en op soek is na ’n gelowige vrou vir die pad verder.
Hy is betrokke by Manne van die Woord, ’n interkerklike, groepie mans wat een maal ’n week om 6vm bymekaar kom om te bid en oor die Woord te praat.
Ten slotte het sy ouers bedank vir hul volgehoue ondersteuning, sy broer, Pierre, wat terwyl hy bewusteloos was onder andere sy finansies hanteer het, dr. Piet van Zyl en al die gemeentelede van die Hervormde Kerk wat hom so gereeld besoek het en mnr. Fernando Gouvia en me. Olga Viljoen van Langcarel by Mooiplaats-myn wat gesorg het dat sy sake in orde is.
Hy is ook dankbaar vir die geleentheid om sy storie te vertel en het my herinner, toe ons gegroet het, om daagliks die Here te loof.



