SECUNDA – Hoërskool Oosterland se eerste langtafelgeleentheid was ’n groot sukses.
Die skool het dié spoggerige geleentheid Vrydag, 11 Mei vir die eerste keer aangebied en ’n deel van Drakensbergstraat voor die skool is toegemaak.
Me. Annaretha Fourie, organiseerder, het gesê dit gaan beslis ’n jaarlikse geleentheid word en daar was sowat 63 gaste wat vanaf Bethal, Pretoria en Johannesburg gekom het.
Hoërskool Oosterland se orkes het die gaste vermaak terwyl hulle voorgereg in die vorm van ’n kaas- en sjerrie-buffet geniet het.
Na die voorgereg kon gaste aan die lang tafel gaan aansit, terwyl die Hoëveldrif Jeugkoor onder leiding van me. Trinka Combrinck, twee liedjies opgevoer het.
Die hoofgereg het bestaan uit lamsvleis in rooiwyn of hoender gevul met spinasie en fetakaas, en Longridge Landgoed se wyne is bedien.
Vir nagereg is taaipoeding, casata met grondboontjieraak en sjokolademousse bedien.
Su-Marie van Loggerenberg het gaste vermaak met haar sang.
Me. Fourie het almal wat die aand ondersteun het en in besonder al die ma’s wat haar gehelp het om die aand te reël, bedank.





