Kinross se byeboer trek gereeld met sy bye na waar nektar is
Heuning is die enigste voedsel wat nie verval nie. Dit is ’n natuurlike antibiotikum en die beste vorm van versoeter.
KINROSS – Dis nie bloed nie, maar heuning wat deur mnr. Pieter Marè (51),’n byeboer van Kinross, se are vloei.
Hy het al as jong tjokkertjie kennis met bye gemaak, danksy sy oupa, Gert Beukes, wat destyds met bye geboer het.
Hulle het gereeld op die plaas by hul oupa gaan kuier en as kinders was hulle baie beïndruk met die sandsuikerheuning wat hulle uit die groot outydse suikerblik geëet het.
“Ek was vyf jaar oud toe ek al my eerste swerm bye probeer vang het. Ons het bye in ons skoorsteen gehad en ek het ’n kartondoos gevat en vol heuning gesmeer en die bye probeer inlok. Intussen het die bye net al die heuning opgeëet en die volgende dag toe is al die bye terug in die skoorsteen!
‘’Ek het toe al geweet dis wat ek eendag graag sal wil doen as ’n stokperdjie. Ek was nog altyd geïnteresseerd in bye en bye fassineer my. Ek het dit eers net as ’n stokperdjie begin, maar het oor die jare al meer korwe gekry en het tot die besef gekom dat ek eerder voltyds met bye wil boer, dat ek dit die meeste geniet en dat dit is wat ek eerder wil doen. ’n Mens is daagliks in die natuur en ontmoet mense en sien verskillende plekke, ek ry baie.’’
Mnr. Marè het in die omgewing grootgeword en het sedert 1984 deeltyds met bye begin boer en ’n onderneming besigheid gehad.
Hy is egter die afgelope vier jaar voltyds ’n byeboer op groot skaal. Sy onderneming is Happy Hives Honey Farms.
Soos die byeboer in Carika Keuzenkamp se liedjie, Byeboerwa, is dié byeboer ook heeltyd aan die trek agter kos aan vir sy bye.
Boere sover as Limpopo vra hom om sy bye vir bestuiwingsdienste na hul boorde en landerye te neem. Eersdaags word al die bye na die Bosveld toe getrek, dan begin die aalwyne blom en die bye begin broei.
Aalwynbloeisels is baie ryk aan protiëne en gee nektar en stuifmeel. Jong swerms bou vinnig op tot groot sterk produksieswerms. Die nuwe heuningseisoen begin dan. Aan die einde van Augustus word aalwynheuning afgehaal en vandaar word die bye vir lemoenbestuiwing geskuif, asook Macadamia en appelbestuiwing.
September is gewoonlik ’n baie besige maand en baie ryery.
“Byeboerdery is baie arbeid en tydintensief. Vir bestuiwing moet korwe betyds uitgeplaas word en swerms moet sterk wees anders kry ’n mens nie ’n heuningoes nie en swak bestuiwing. Dit behels baie handewerk, maar ek geniet dit veral omdat ek so naby aan die natuur kan leef. Ons kamp baie primitief en slaap sommer daar in die veld by die bye langs ’n kampvuur.”
Die byepakke wat aangetrek word wanneer hulle die bye hanteer, is ook baie warm en soms moet mnr. Marè en sy werkers vir ure daarin werk.
“’n Mens sweet jou papnat op ’n baie warm dag en moet oppas vir hitte-uitputting.”
Mnr. Marè se vrou, Martie, maak allerlei heuning- en byewasprodukte soos lipbalm, handeroom, gesigroom, ens.
Sy bottel die heuning en doen al die etikette en bemarking. Heuning word aan al die winkels verskaf, asook gratis aflewering vir kliënte wat bestel. Heuning is die enigste voedsel wat nie verval of afgaan nie. Dit is ’n natuurlike antibiotikum en die beste vorm van versoeter.
“Ons gebruik geen suiker in ons huis nie,” het mnr. Marè vertel.
Hy verwyder ook gereeld ongewenste bye by huise, ondernemings en selfs in elektrisiteitskaste waar bye hulle intrek geneem het.
“Dié insekte hou van enige holte en omdat hul natuurlike habitat deur die mensdom verklein of verwoes word, beweeg hulle al meer in beboude gebiede in.”
Mnr. Marè meen daar is ’n tekort aan byeboere in Suid-Afrika en dat dié lewensnoodsaaklike insek aan die uitsterf is , meestal weens onkunde.
“Mense skrik wanneer ’n swerm by hulle intrek en gebruik dan sommer insekdoder om van die swerm ontslae te raak. In baie gevalle dink mense dis makliker om bye te brand as om kenners te betaal vir die verwydering van bye. Dis ’n groot fout, want ons stuur af op ’n ekologiese ramp, want sonder bye en bestuiwing sal die hele wêreld binne ’n paar jaar tot niet gaan. Bye bestuif meer as 70 persent van die wêreld se voedselgewasse en probleembye moet altyd so gou as moontlik verwyder word terwyl die swerm nog jonk en klein is. Hoe langer die bye in ’n ongewenste plek bly, hoe groter en aggressiewer word die swerm, dan is dit ook meer werk om al die bye te vang en die koeke te verwyder. Dit is teen die wet om bye dood te maak, slegs ’n byeboer of ’n opgeleide persoon mag bye hanteer, geen onopgeleide persoon mag bye hanteer nie. Bye kan lewensgevaarlik wees as hulle nie reg hanteer word.’’
Die Afrika by, die Scetulata-spesie, is die aggressiefste en gevaarlikste byesoort in die wêreld. Die ‘killer bee’ is ook van dié Afrika by afkomstig.
Mnr. Marè het gesê bye moet beskerm word, want die wêreld is afhanklik van hierdie insekte. Sonder bye sal daar nie blomme, voedselgewasse, vrugte, kos, bome, suurstof, reën of water wees nie, niks kan bestaan sonder suurstof en water nie.
Mnr. Maré kan vir ure dié gediertjies dophou.
“Hulle is só interessant. Dit is werklik merkwaardig hoe die bye verskillende rolle inneem en vervul.”
Byeboerdery is ontspannend en lekker om as ’n stokperdjie te beoefen. Om voltyds bye te boer, moet dit jou passie wees. ’n Mens moet doelgerig en hardwerkend wees, bereid wees om in moeilike weersomstandighede te werk – lang ure en baie nagwerk, Bye kan net in die nag opgelaai en getrek word, want in die dag vlieg die bye nog rond, en die werkerbye werk nog.



