Local newsNews

Vyf-jarige seuntjie van Ermelo is vasberade om te leer loop

Hy probeer teen als in die huis opstaan en is baie trots as hy dit wel regkry

Dewald Mareé, ’n vyf-jarige seun van Ermelo, is op sewe maande met water op die brein en ’n hobbel (brug) op sy rug gebore.

Die hobbel is in April 2013 deur middel van ’n operasie verwyder toe hy slegs ’n maand oud was. Sy ouers, mnr. Andrew Mareé en me. Veronica Smith, het egter drie maande later opgemerk dat Dewald se voete na mekaar trek wat veroorsaak het dat hy nooit kon leer loop of op sy eie kon staan nie.

Hy het egter op 19 Februarie ’n operasie in die Universitas Hospitaal in Bloemfontein ondergaan om sy voete te herstel, wat volgens dr. Kobus Smit ’n sukses was.

Hulle was weer by die dokter vir ’n opvolgondersoek en volgens me. Smith is die dokter baie tevrede met Dewald se vordering.

Me Smith het aan die Hoëvelder gesê dat hy sedert die operasie drie keer ’n week oefening ontvang om te help om sy spiere te versterk.

Hy leer by me. Annelize Mentz weer kruip en seil en doen ook ander spierontwikkelingsoefeninge.

“Daar is aan ons verduidelik dat hy alles van voor af moet leer, eers om te kruip en dan stadig maar seker in die nabye toekoms te leer loop,” het me. Smith gesê.

Dewald gaan ook vir behandeling by ’n plaaslike fisioterapeut, me. Michelle Ras, waar daaraan gewerk word om Dewald se beenspiere te versterk.

Sy ma het laggend vertel dat hy sy voete as baie groot beskryf het na sy operasie.

Me. Smith het gesê dat Dewald ’n baie positiewe klein mensie is, wat hard werk om weer te kan loop.

“Hy probeer teen als in die huis opstaan en is baie trots as hy dit wel regkry.”

Dewald kry ook een keer ’n week behandeling by die provinsiale hospitaal waar die fokus is dat hy regop moet kan staan.

“Selfs die personeel by die hospitaal bederf Dewald gereeld. Hy kry na elke oefensessie ’n lekker.”

Sy ma het vertel dat die oefeninge hom soms baie uitput, maar dat hy altyd glimlag en steeds sy vriendelike self is.

’n Mylpaal waarop Dewald baie trots is, is dat hy sedert die oefeninge self in en uit die bad kan klim.

“Ons kan elke dag die verskil in hom sien sedert hy die operasie ondergaan het en na elke week se oefeninge.”

Dewald se ouers het almal wat by Dewald se herstelpad betrokke is, bedank vir die tyd wat hulle saam met hom bestee. “Sonder die hulp van elkeen van dié mense sou ons nog nie sover gevorder het nie. Ons is dankbaar vir elkeen se insette om Dewald te help loop.”

Sy het ook vertel dat hulle poog dat Dewald teen sy sewende verjaarsdag kan loop.

“Hy sien natuurlik baie daarna uit om te kan loop. Hy wil net saam met sy broer rondhardloop en speel.”

Dewald moet ook volgende jaar op die ouderdom van ses ’n operasie ondergaan om die pypies wat die water op sy brein dreineer, te verleng. Water op die brein is die abnormale opbou van serebrospinale vloeistof in die ventrikels van die brein. Die vloeistof is dikwels onder verhoogde druk en kan vergroting van die kop veroorsaak en die brein beskadig.

Me. Smith het vertel dat hulle as ouers altyd positief probeer bly en vorentoe kyk.

“Ons neem elke dag met sy uitdagings stap vir stap.”

Sy het gesê dat hulle Dewald graag volgende jaar in ’n kleuterskool sal wil sit om hom die kans te gee om met ander kinders te speel en te leer.

“Elke ouer wil tog die beste vir sy kinders hê, ons moet hom net bly ondersteun en moed inpraat, dan glo ons hy sal kan loop.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button