Local newsNews

Ondersteun R5-muntlegging vir Bianca by Kruik se Nagmark

Gr.9-leerder wil net terug skool toe.

SECUNDA – Dit gaan goed met Bianca Fourie (16), die gr. 9-leerder van Hoërskool Oosterland wat Vrydag, 1 Junie ’n rugoperasie moes ondergaan.

Sy is met skoliose gebore en dit het die afgelope paar jaar só vererger dat Bianca die laaste paar maande permanent aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel was omdat haar skewe ruggraat haar organe vasgedruk en sy gesukkel het om asem te haal.

Die gesin het nie ’n mediese fonds nie en die Secunda-gemeenskap, ondernemings en Hoërskool Oosterland het saamgestaan om vir Bianca genoeg geld vir die operasie in te samel.

Bianca kon die operasie ook vir baie goedkoper laat doen by die Life Faerie Glen Hospitaal omdat die bestuurder van dié hospitaal, mnr. Joe Koekemoer, ’n oud-Oosterlander en Secunda-inwoner, dit vir haar gereël het.

Volgens Bianca se ma, me. Madeleen Fourie, sterk sy goed aan by die huis en kan al sit, staan en loop.

“Sy het nog pyn en gebruik pynmedikasie, maar dit gaan al baie beter,” het me. Fourie gesê.

“Sy is aan die gang en wil net teruggaan skool toe, maar ons sal eers hoor wat die dokter sê.”

Bianca moet Woensdag, 18 Julie weer die dokter gaan sien en dan ook weer vir X-strale gaan.

Die gesin sal vir al dié ondersoeke en X-trale moet betaal en me. Yolanda Booyens wat die storie oor Bianca op Facebook gelees het, het besluit om op 27 Julie tydens Kruik Kerk se Nagmark, vir Bianca ’n muntlegging te reël.

Die mark vind vanaf 4nm tot 8nm plaas en die R5-muntlegging vanaf 5nm tot 7nm.

Me. Booyens het inwoners aangemoedig om Bianca te ondersteun en die Nagmark en muntleggingsgeleentheid by te woon.

Sy het besef dat daar na die operasie steeds mediese kostes vir Bianca sou wees en besluit om iets te reël om daarmee te help.

Bianca Fourie kan al sit, staan en loop na haar rugoperasie.

https://www.citizen.co.za/ridge-times/116646/bianca-sterk-goed-aan-na-lewensbelangrike-operasie/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button