Local newsNews

Shorty is die skim van Trichardt

Shorty is ’n bekende gesig op Trichardt. Baie mense herken hom dadelik, maar niemand blyk veel meer oor hom te weet nie.

TRICHARDT – Shorty skuifel so ruk-ruk in Schnetlerstraat af tot by die kraan langs die oprit buite ’n inwoner se erf.

Hy les sy dors voor hy weer aanstaltes in die rigting van die dorp maak.

Ek waai vir hom en stap nader. Hy wil praat, maar by sy mond kom daar net ’n gebrabbel uit, en spoeg.

Dit dribbel by sy ken af en maak lang lelle vóór dit uitendelik in druppels in die stofpad beland.

Sy bruin oë sien my raak, maar daar is ’n moegheid wat ek nie kan opsom nie.

Is dit frustrasie dat mense hom nie kan verstaan nie, of is die helderheid net lankal weg en hy leef in sy eie wereld?

Is mense vir hom bang of kry hulle hom net jammer?

Shorty lyk nie te vuil nie – nie soos van die straatslapers wat saans te veel drink en dan die volgende dag vol gras en vuil klere rondloop nie.

Sy klere is oud en hopeloos te groot, maar nie stukkend nie. Hy ruik nie na stroois of drank nie. Net asof hy lanklaas gewas het. Hy kort ’n bad.

Ek het soveel vrae: Waar woon hy? Het hy ’n huis om heen te gaan? Waar slaap hy? Wie versorg hom? Verstaan iemand wat hy mompel? Is daar iemand wat sorg dat sy klere gewas word? Wie gee vir hom kos? Ly hy aan die een of ander siekte soos Parkinson’s of is hy dalk geestelik versteurd? Was hy altyd in dié toestand? Hoe lank loop hy al só rond?

Shorty is nie meer ’n jong man nie, maar niemand weet hoe oud hy is nie.

Shorty is ’n bekende gesig op Trichardt. Baie mense herken hom dadelik, maar niemand blyk veel meer oor hom te weet nie.

Sommiges verwys na hom as “ons malletjie”.

Dit word in deernis gesê, want hulle wil hom nie in ’n staatsinrigting sien waar hy deel van die Life Esidimeni-statistiek kan word nie.

Shorty is ’n bynaam.

Hy kan nie vertel wat sy regte naam is nie. Die naam Shorty is aan hom geskenk deur ’n vrou en haar dogter wat glo dat geen mens of dier naamloos moet voortbestaan nie.

Hulle het hom al op ’n aand in die reën langs die pad naby die silos opgelaai.

Hy het hulle aangepor om net verder en verder in die rigting van Charl Cilliers te ry.

Later, ná hulle reeds deur Charl Cilliers gevorder het, het hy steeds gewys hulle moet voort. Wat na ’n ewigheid gevoel het, het hy hulle laat stilhou en uitgeklim.

In die middel van nêrens het hy weer ’n duim omhoog gehou vir ’n saamrygeleentheid. Sy blyplek is steeds ’n geheim.

Hy is reeds soggens vroeg op die dorp.

Kafee-eienaars gee gereeld vir hom iets te ete en hy word gereeld teen skemer gewaar waar hy naby Trichardsfonteindam duimgooi – en bewe… die Shorty Shuffle.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button