De Bruins trek Middelburg toe na 50 jaar op Bethal
Pieter se kliënte kan hom steeds skakel.
BETHAL – Mnr. Pieter en me. Vera de Bruin verlaat Bethal na meer as 50 jaar.
Albei het by Hoërskool Hoogenhout skoolgegaan en mnr. De Bruin was ’n kranige rugbyspeler.
“Hy was die ‘smartste’ agsteman op die veld,” het me. De Bruin gesê.
Hy het vir die Suid-Oos-rugbyspan en Oos-Transvaalse rugbyspan gespeel.
Die egpaar het eers op Groblersdal vir drie jaar gebly en toe op Piet Retief vir vier jaar voordat hulle 17 jaar gelede weer na Bethal verhuis het.
Toe mnr. De Bruin nie meer kon rugby speel nie weens ’n enkelbesering, het hy hom daarop toegespits om ’n skeidsregter te word en het vir lank die fluitjie vir die destydse Suid-Oos Rugbyunie geblaas.
Hy het vir drie jaar rugby gespeel toe hy sy enkel geswik het.
“Ek was fiks en toe maak ek my enkel seer, ek het gedink ek kan nie die fiksheid mors nie en het besluit om ’n skeidsregter te word.
Mnr. De Bruin het vir 10 jaar as verteenwoordiger en distrikbestuurder vir Ou Mutual gewerk en later vir Volkskas Makelaars.
Hy het in 1995 ’n onafhanklike makelaar geword en werk vandag steeds as een.
Die egpaar trek aan die einde van die maand na Middelburg en sy kliënte van Bethal kan hom steeds skakel.
Me. De Bruin het as onderwyser by verskeie laerskole op Bethal gewerk.
Die egpaar kyk graag sport, van rugby tot sokker en tennis, in hul vrye tyd of vul blokkiesraaisels en Soduko in, en lees graag.
Die wildtuin is een van hul gunstelingplekke vir vakansie en vroeër jare het hulle graag gekamp.
“Ons het jare se lag en huil op Bethal gehad,” het me. De Bruin gesê.
Hulle het drie kinders en skoonkinders en ses kleinkinders wat in Frankryk en Nieu-Seeland woon.
Die egpaar was al een keer in Nieu-Seeland en verskeie kere in Frankryk.




