Local newsNews

Meyer boetie en sussie van Secunda is talentvol

Druan en Marizelle maak gedugte span en wen kompetisie in Amerika.

SECUNDA – Druan (17) en Marizelle (15) Meyer, broer en suster, ken nie die einde van hul talente nie.

Hulle het onlangs by die International Student Convention (ISC) in Amerika uitgeblink in verskeie afdelings van dié kongres.

Die twee het die afdeling vir wetenskap- en ingenieurswesegroepprojek by die ISC gewen met die elektriese motortjie wat hulle ontwerp en gebou het.

Hulle kry tans tuisonderrig en was tydens hul laerskoolloopbaan in die Highveld Christian College.

Dié twee moes genomineer word by die All Africa Student Convention (AASC) om in Amerika aan die ISC te kon deelneem.

Die gesin het in Mei na Amerika getoer en Druan en Marizelle en hul ma, me. Annabelle Meyer, het die ISC-toer meegemaak, terwyl hul pa, mnr. Pieter Meyer, en hul jonger boetie, Pierru (9), later by hulle aangesluit het.

Die universiteit waar die kompetisie aangebied is, is die Ball State University in Muncie in Indiana.

Die Meyers het ook na New York, Orlando en Washington getoer.

Hulle het in Oktober verlede jaar aan die AASC-kompetisie in Bloemfontein deelgeneem en Marizelle het vir 11 afdelings ingeskryf.

Sy het ’n pastelskets, twee houtwerkstukke, ’n fotoplakboekstuk, ’n instrumentale duet, ’n praatjie, die voordrag van ’n gedig, ’n wetenskap- en ingenieurswesegroepprojek, ’n sosiale studiesgroepprojek en ’n lof- en aanbiddingsdans ingeskryf.

Druan het ook vir 11 afdelings ingeskryf, wat twee houtwerkprojekte, twee boogskutafdelings, ’n instrumentale duet, ’n praatjie, ’n wetenskap- en ingenieurswesegroepprojek, ’n sosiale studiesgroepprojek, ’n sangitem en ’n kitaarspelitem insluit.

Die boetie en sussie het ’n agtste plek vir hul onderskeie houtwerkstukke gedeel en Druan het ook ’n agtste plek vir sy ander houtwerkstuk verower.

Albei het by hul pa geleer hoe om houtwerk te doen en Druan bestee graag sy vrye tyd in die motorhuis waar hy enige iets bou of regmaak.

“Ek was al van kleins af altyd saam met my pa in die motorhuis en het gekyk wat doen hy,” het Druan gesê.

Marizelle het sowat twee jaar gelede by haar pa geleer hoe om houtwerk te doen.

Albei kinders neem weekliks musieklesse by me. Isabelle Retief en Druan neem ook sanglesse en kan kitaar speel, terwyl Marizelle klavier speel.

Hulle kan die Djembe-dromme speel en het ook ’n drommespelitem vir die kompetisie ingeskryf.

Dié broer en suster is na aan mekaar en het nie net die wetenskap- en ingenieursweseprojek en ’n duet saam aangepak nie, maar ook die sosiale studiesgroepprojek.

“Ons is veral na aan mekaar as ons my kleiner boetie terg,” het Druan laggend gesê.

Marizelle neem al sedert sy vier jaar oud is, balletklasse by die Nicolette Brooks Dansskool op Secunda.

In haar vrye tyd doen sy graag naaldwerk of teken of verf en neem weekliks kunsklasse.

Druan het net ’n paar maande voor die kompetisie eers geleer hoe om met ’n pyl en boog te skiet.

Hy geniet dit om perd te ry in sy vrye tyd of om iets te maak in die motorhuis.

Die gesin het ’n paar perde op stal buite die dorp en dit is Druan se werk om hulle te versorg.

Dié twee is gedissiplineerd in hul skoolwerk en het besluit om nie nou soos die hoofstroomskoolkinders vakansie te neem nie omdat hulle meen hulle reeds vakansie gehou het in Amerika in Mei.

“Ons het ook voor die kompetisie baie tyd bestee om ons projekte reg te kry en wil nie nou nog meer skoolwerk verloor nie,” het Marizelle gesê.

Hulle stel daagliks doelwitte wat hulle moet bereik in hul skoolwerk.

Druan wil na skool meganiese ingenieurswese studeer en Marizelle argitektuur en landskapargitektuur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button