Oud brandweerhoof sterf by sy huis op Secunda
Hy is vermoedelik aan ’n hartaanval dood

SECUNDA – Mnr. Douw Steenkamp (67), ’n voormalige brandweerhoof van Secunda en later ’n sakeman, is Maandag, 30 Julie omstreeks 12vm in sy huis op Secunda dood.
Me. Margaret Mngomezulu wat vir die Steenkamps gewerk het, het onraad vermoed toe mnr. Steenkamp nie uit die badkamer gekom het nie en ook nie op haar roep geantwoord het nie.
Sy kon ook nie die deur oopkry nie. Sy het toe vir me. Naomie Steenkamp geskael en die nooddienste is ontbied.
Me. Steenkamp het haar man in die badkamer aangetref. “Ek glo hy was toe reeds dood,” het sy gesê. Hy het vermoedelik ’n hartaanval gehad.
Die Steenkamps was vir 44 jaar getroud en het een seun, Douwtjie, wat in Maart 2010 in ’n motorongeluk oorlede is.
Mnr. Steenkamp en oudbrandweermanne wat destyds saam met hom gewerk het, het onlangs die South East Emergency Service Company gestig met die doel om ’n volledige private brandweer- en nooddiens te begin. “Die brandweer was maar altyd in sy bloed. Dit het die adrenalien aan die gang gehou,” het me. Steenkamp gesê.
Hy het juis Sondag, 29 Julie aan die koerant gesê dat die eerste brandweervoertuig binnekort hier sal wees.
Een van sy vennote, mnr. Eon Oosthuizen, het Dinsdag gesê hulle het besluit om met die onderneming voort te gaan ter nagedagtenis aan mnr. Steenkamp.
Die begrafnis vind Donderdag, 2 Augustus, om 11vm. vanuit die Rondekerk plaas.





