Wouter (4), wat deur hond gebyt is, nie gehelp by Evander Hospitaal [Waarskuwing – Foto’s kan sensitiewe lessers en kinder ontstel]
Pasiënte wat glo na me. Nadia Smit aangekom het, is voor haar gehelp.
SECUNDA – Wouter Robberts (4) se ma, me. Nadia Smit, moes self sy wond behandel nadat ’n hond hom gebyt het en personeel van Evander Hospitaal haar nie gehelp het nie.
Wouter is Saterdag, 4 Augustus deur die gesin se hond wat vermoedelik ’n Duitse herdershondkruising is, in sy gesig gebyt nadat hy per ongeluk op die hond geval het en hom toe ’n drukkie wou gee.
“Die kinders speel altyd buite met die honde en Brutus het hulle nog nooit gebyt nie,” het me. Smit gesê.
“Hy het soms gegrom, maar dit was die eerste keer dat hy iemand gebyt het.”
Me. Smit moes met Wouter na Evander Hospitaal loop die dag toe hy gebyt is omdat sy nie vervoer gehad het nie.

Sy het omstreeks 4.30nm by die hospitaal aangekom en toe sy teen 8nm steeds nie gehelp is nie, het hulle terug huis toe gegaan.
“Hulle het toe nog nie eers sy bloeddruk geneem of na hom gekyk nie,” het sy gesê.
“Ek is so haastig by die huis weg om hom by die hospitaal te kry dat ek nie vir hom skoene of vir een van ons baadjies saamgeneem het nie.
“Hy het naderhand begin koud kry en was honger. Dit was al donker en ek wou nie vrou-alleen met ’n kind in die donker terugloop huis toe nie.
“Die susters het ons heeltyd daar laat sit en ek het meer as een keer gevra wanneer hulle ons gaan help. Dan het hulle net gesê ons moet geduldig wees en wag.
“Hulle het naderhand skofte geruil en ons steeds nie gehelp nie.
“Hulle het nie eers vir Wouter ’n pleister gegee nie en toe ek op ’n stadium weer gevra het wanneer hulle ons gaan help, het die suster net ’n hand, wat beteken wag, uitgesteek na my terwyl sy op haar selfoon was.”
Sy het naderhand die sekuriteitswag gaan vra of hy vir die susters kan vra wanneer hulle gehelp gaan word.
Hy het ingestap, maar die susters het hom glo ook geïgnoreer en hy het vir me. Smit gesê om maar nog te wag.

Volgens me. Smit is pasiënte wat na hulle daar aangekom het, voor hulle gehelp.
Sy het gesê daar het bebloede watte en naalde op die vloer gelê en toe sy sien hulle gaan in elk geval nie gehelp word nie, wou sy nie langer met Wouter in daardie omstandighede en vuil omgewing sit nie.
Me. Smit se vriend het later sy ouma geskakel en raad gevra oor hoe hulle die wond kon skoonmaak.

Me. Smit het ook die volgende dag na DisChem Apteek gegaan en raad gevra en het toe self die wond skoongemaak en behandel.
Die Ridge Times het Maandag, 27 Augustus mnr. J. Aphane van Evander Hospitaal om kommentaar genader. Hy het gesê hy moes eers die betrokke pasiënt se lêer sien voordat hy kommentaar kon lewer.





