LEANDRA – Die AfriForum-tak in Leandra het as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaand, ses bome by Laerskool Leandra geplant.
Volgens mnr. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga-Oos, het die organisasie vanjaar meer as 3 000 bome landwyd geplant.
“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie, ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het.
“Bome is uit die aard van die saak ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron, maar ook deel van ons erfenis,” het me. Christelle Pendlebury van AfriForum se Leandra-tak gesê.
AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie.
Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus Latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia Albitrunca) is.
AfriForum het sy takke aangemoedig om inheemse bome te plant wat maklik in hul natuurlike omgewings aard.
“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Leandra, in samewerking met die leerders van Laerskool Leandra, onderneem om hierdie sorg self te verskaf.
“Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en opregte hoop vir die toekoms het,” meen me. Pendlebury.
Die tak moedig die gemeenskap aan om deel te word van ’n groener toekoms.
Leandra-inwoners kan by hul plaaslike AfriForum-tak betrokke raak deur “Leandra” te SMS na 45350.



