Sarel du Plessis veg voort deur ondraagbare pyn
Die dokters het die been met plate geheg, maar ek voel hoe breek die been hierbinne. Dit verbrokkel en niks help vir die pyn nie
TRICHARDT – Die pyn wat deur sy hart ruk is bykans net so seer soos die ondraagbare pyn waarin mnr. Sarel du Plessis (32) daagliks verkeer.
Die trane sit vlak in die oë van hierdie skraal, donkerkop pa van twee. Dis trane van pyn gemeng met die seer van ’n man wat sien hoe sy gesin swaarkry, want hy kan nie meer voorsien nie.
Hy probeer sy kop hooghou, maar hier voor my sien ek ’n gebroke man – liggaam en siel.
“Ek weet nie wat die oplossing is nie, maar ek mag nie opgee nie,” vertel hy
Mnr. Sarel du Plessis ly aan avaskulêre nikrose, ’n siekte waar die bloedtoevoer na die bene in die liggaam verhinder word wat dan tot beenverbrokkeling lei en die beengroei nie weer kan herstel nie. Dit tas veral die heupe en bo-bene aan.
Mnr. du Plessis het sowat vyf jaar gelede, toe hy nog ’n meganiese skieman by Sasol was, agtergekom sy bene, voete en tone verloor gevoel.
“Ek het so ’n prikkeling gevoel, maar naderhand het dit heeltemal begin doodgaan,” het hy vertel.
Op daar die stadium het hy nog ’n mediese fonds gehad en is dadelik dokter toe.
Sy regterheup was aan die verbrokkel en eers is daar gepoog om ’n beenoorplanting te doen, maar dit het nie geslaag nie.
Die enigste oplossing was ’n heupvervanging.
Ses maande later was mnr. du Plessis weer in die hospitaal vir die vervanging van die ander heup.
’n Paar maande later het mnr. du Plessis gegly en sy regter bobeen op twee plekke gebreek en moes daar uiteindelik ’n langer pen in sy been ingeplant word.
“Van hier af het dinge begin erg skeefloop.
“Ek was naderhand nie meer sterk genoeg om die werk waarvoor ek aangestel is, te doen nie en ek is op die uiteinde in 2014 ongeskik vir werk verklaar. ”
Kort daarna het mnr. du Plessis ’n knop op sy regterbeen opgemerk.
“Ek het gedink dis net ’n puisie, maar toe begin die draad in my been by die vel uitkom. Die vleis en vel aan my regterbeen het begin gate inval.”
Teen hierdie tyd het mnr. du Plessis nie meer ’n mediese fonds gehad nie.
Hy is na Kalafong-hospitaal verwys en ’n maand later is weer hy huistoe gestuur.
’n Ouerige vrou wat gesien het hoe hy ly, het mnr. du Plessis aangeraai om Steve Biko-hospitaal toe te gaan.

“Ek was vir bykans ’n jaar in die hospitaal waar dr. Jaco Viljoen my behandel het. Ek het verskeie operasies ondergaan en vandag is my regterbeen korter as die linkerbeen.”
Mnr. du Plessis en sy lewensmaat, me. Maria Nel, het in dié tyd hul huis en byna al hul aardse besittings verloor, maar was hy weer op die been om te werk.
Dit was egter van korte duur, want mnr. du Plessis se linkerbeen het sowat drie maande gelede gebreek.
“Die dokters het die been met plate geheg, maar ek voel hoe breek die been hierbinne. Dit verbrokkel en niks help vir die pyn nie,” het hy vertel.
Hy kom so skuifel-skuifel met krukke oor die weg, maar sy gesig verstrek van die pyn met elke beweging.
Die paartjie het nou bykans die bodem van hul donker put getref. Albei is werkloos en hulle woon nou in ’n ou karavaan op ’n goedhartige persoon se werf.
Hul seun (13) woon tans by sy grootouers in n karige pensionaris-huisie en hul dogtertjie (5) vyf is by hulle.
Hulle het darem nog ’n kar, maar geen brandstof om weer by dr. Viljoen in Steve Biko-hospitaal uit te kom nie.
“Ek vra nie dat mense vir my moet jammer kry nie. Ek wil nie bedel nie -maar ek vra hulp om sonder pyn te wees en vir ’n werk waar ek weer iets kan verdien om vir my gesin te sorg.”
Enigeen wat wil help kan mnr. du Plessis bel by 083 969 0534.




