Cathy Hopkins is aangewys as die nuwe voorsitter van die Vroue Landbou-unie se Adoré-tak
Haar eerste artikel wat sy ingeskryf het, was vir koffiekoekies wat anders moes wees. Sy het met trots vertel dat sy 80 persent vir die artikel behaal het.
Me. Cathy Hopkins is onlangs as die nuwe voorsitter van die Vroue Landbou-unie se Adoré-tak verkies.
Dit het nadat sy slegs drie maande lid was van die tak, gekom.
“Sy is ‘n pragtige borrelende mens, sy is altyd vol energie en reg vir enige uitdaging. Ek kon nie vir ‘n beter opvolger gevra het nie, en ek weet dat sy Adoré-tak na hoër hoogtes sal neem,” het me. Elsie Webb gesê.
Haar raad vir me. Hopkins is dat sy net haarself moet wees, elke uitdaging geniet en weet dat daar in elke ding wat sy doen iets te leer is.
Me. Hopkins is op Ermelo gebore en het aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer, waarna sy by ‘n haarkapper aangesluit het om deur hulle verder te leer.
Sy het vir 43 jaar as ‘n haarkapster gewerk en hoewel sy dit baie geniet het, was bak en kook nog altyd haar groot liefde.
Sy het vertel dat sy toevallig een aand saam met haar vriendin die tak se maandelikse byeenkoms bygewoon het, en daarna besluit het om aan te sluit.
Haar eerste artikel wat sy ingeskryf het, was koffiekoekies wat anders as die tradisionele koekies moes wees.
Sy het met trots vertel dat sy 80 persent vir die artikel behaal het.
“Dit was maar vir my vreemd gewees, omdat ek bak om lekker te eet, ek bak nie vir die mooi daarvan nie.”
Me. Hopkins is heeldag in die kombuis besig om te bak en kos te maak en geniet dit om kos vir troues en ander funksies te voorsien.
Die feit dat sy nog nuut by die VLU is, vertel sy laat haar dom voel met die papierwerk, maar voeg by dat die lede haar bystaan en hand bysit waar nodig.
Me. Hopkins het vir elke maandbyeenkoms iets opwindend beplan en die groep vroue skop dus af met pizza’s wat by die volgende byeenkoms gemaak gaan word.
Sy sien ook uit na die byeenkoms waar sy haar lede gaan leer hoe om hulle eie pasta te maak.
“Om deel te wees van die VLU beteken dat jy altyd ‘n vriendin het wat daar is vir jou in ‘n tyd van nood of net as jy met iemand wil gesels.”
Dit is vir haar lekker om een keer ‘n maand uit die huis te kom en saam met die groep vroue, wat in die kort tydjie soos haar susters geword het, te kuier.
Sy is ‘n vrou vol talente en het al pottebakkery gedoen, gespin en geweef.
‘n Ander gunsteling wat me. Hopkins as ‘n stokperdjie begin het, is om porseleinpoppe te maak.
Sy het opgewonde vertel hoe sy en haar dogter die klasse in Carolina begin bywoon het.
Dit het hulle ses weke geneem om die poppe te voltooi en sy het bygevoeg dat sy al bykans 30 poppe gemaak het.
Sy is nog altyd ‘n kreatiewe mens wat daarvan hou om iets nuuts te probeer en skrik nie vir ‘n uitdaging nie.
Me. Hopkins nooi alle vroue wat belangstel om by die tak aan te sluit, om haar te skakel by 082 691 0575.



