Hannes Dercksen laat ’n groot leemte agter
Die snelweg waaraan hulle gewerk het, word as ’n huldeblyk na hom vernoem. Dit sal bekend staan as die Cornelius Dercksen snelweg.
Mnr Hannes Dercksen (31), ’n oud-leerling van Ligbron Akademie vir Tegnologie is op Vrydag, 22 Februarie in Guinea, Wes-Afrika aan serebrale malaria dood.
Hy het in 2006 gematrikuleer, waarna hy by Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) vir Landmeter studeer het.
Mnr Dercksen is laat in Januarie na Guinea gestuur, waar sy maatskappy besig is om ’n snelweg te ontwerp, om die laaste afrondings aan te bring.
Hy het serebrale malaria opgedoen en reëlings is getref om hom na Dakar te verskuif, waar hy die beste moontlik mediese sorg sou ontvang het.
Daar is ook gereël vir dialise en bloedoortappings, maar hy is dood voordat hy oorgeskuif kon word.
Die snelweg waaraan hulle gewerk het, word as ’n huldeblyk na hom vernoem.
Dit sal bekend staan as die “Cornelius Dercksen”-snelweg.
Mnr. Dercksen het in Desember 2018 aan me. Ashley Kotze in Thailand verloof geraak.
Hy laat sy ouers, mnr. Chris en me. Henriette Dercksen, sy suster en swaer, me. Nadia en mnr. Conrad Erasmus asook sy verloofde me. Ashley Kotze agter.
’n Huldeblyk en viering van sy lewe sal Saterdag, 30 Maart in Pretoria plaasvind.



