BETHAL – Me. Riana Steenberg en haar gesin het die sekuriteit by hul huis in Ribbokstraat opgeskerp nadat albei hul honde op Woensdagoggend, 3 April, vergiftig is.
Die gesin vermoed dit moes tussen 3vm en 6vm gebeur het.
“Ons worshondjie slaap gewoonlik in die huis, maar sy het daardie oggend heeltyd geblaf om uit te gaan. Ons het haar maar uitgelaat sodat sy saam met ons groot hond kon slaap,” het me. Steenberg vertel.
“Ons het die honde nog om 3vm gehoor blaf. Toe ons om 6vm opgestaan en na buite gegaan het, het ons gesien hulle is vergiftig.”
Die gesin het die gif, wat vermoedelik Two Step is, gevind waar dit onder ‘n vetplant versteek was.
Die verdagtes het glo dieselfde oggend die hekke se slot probeer knip, maar het dit nie oopgekry nie.
Die gesin het later dieselfde dag sekuriteitskamera’s om hul huis laat aanbring en het reeds na die beeldmateriaal gekyk en gesê daar was nog niks verder verdag sedert die honde vergiftig is nie.
Die bestuur van die Bethal-gemeenskappolisiëringsforum (GPF) het dieselfde dag ‘n boodskap uitgestuur om mense te waarsku teen honde wat vergiftig word. Volgens die boodskap is honde in Hartbeesstraat ook vergiftig.
“Daar word verstaan dat die vergiftiging van honde met huisinbrake verbind word,” het mnr. Jaap Pretorius, voorsitter van Bethal GPF, gesê.
“Dit is egter nie bewys dat huisinbrake net plaasvind waar honde vergiftig is nie. Dit kan enige tyd en enige plek gebeur.”
Hy het inwoners gemaan om ten alle tye versigtig te wees en enige verdagte voorvalle, wat honde-vergiftigings insluit, by die polisie aan te meld.
“Kyk rond vir bewyse en skakel dan die veearts.”
Die simptome van vergiftiging sluit in onreëlmatige hartklop, verlies van bloed, diaree, swak asemhaling, braking en ‘n geswelde tong.
Mnr. Pretorius het die gemeenskap aangeraai om onmiddellik hulp te kry as hulle honde een van dié simptome toon.



