CrimeNews

OPVOLG: Sogenaamde Telkom-werker neem kans waar by Stannies

“Gerugte wat op sosiale media die ronde gedoen het, kan eens en vir altyd hok geslaan word,” het mnr. Rudi Hamman, skoolhoof, gesê.

‘n Geslepe booswig het op Donderdag 30 Mei sy kans waargeneem en ongesiens met geld uit die kleinkas van Laerskool Standerton spore gemaak.

Volgens me. Annemarie Schoeman, wat in beheer is van finansies by Stannies, het ‘n man, wat hom as ‘n Telkom-werker voorgedoen het, omstreeks 8.30vm aangemeld by ontvangs en aangedui dat hy die ‘fibre’-lyne by die skool kom herstel.

Die man het ook ‘n naam en telefoonnommer van sy toesighouer gegee.

“Die Telkom-boks is in my kantoor en die kas is weggeskuif sodat hy agter die kas kon werk,” het me. Schoeman gesê.

Volgens haar, was hy nagenoeg ‘n uur en ‘n half bedrywig en het kort-kort in en uit beweeg.

Wat sy optrede so geloofwaardig gemaak het, was dat hy met ‘n klein toestelletjie in sy hand besig was.

Die werksdag het sy loop geneem en me. Schoeman het kontant ontvang vir die bank wat later opgemaak sou word.

“Hy moes gesien het ek sit dit in die laaikas weg.”

‘n Onderwyser het inmiddels me. Schoeman gevra om foto’s te neem en sy het die kantoor verlaat en met haar terugkeer, hom by die kantoordeur sien uitkom.

Tot haar skok, het sy agtergekom die daaglikse bankgeld was skoonveld.

Die skool is veiligheidsbewus en het paniekknopppies aangebring onder elke lessenaar met die oog op voorkoming van enige roof.

‘n Beëdigde verklaring is daarna by die Standerton Polisie afgelê.

Kasselman Veilgheidsdienste (KVD) het hul gebruiklike ronde gedoen die middag om die kontant af te haal, waarna verwarring hoogty gevier het toe iemand op ‘n WhatsApp-groep alarm gemaak het deur te sê dat ‘n roof by die skool plaasgevind het.

Die Standerton Polisie het blitsig na die skool beweeg en die Standerton Advertiser kon hulle ook van die werklike toedrag van sake vergewis.

“Gerugte wat op sosiale media die ronde gedoen het, kan eens en vir altyd hok geslaan word,” het mnr. Rudi Hamman, skoolhoof, gesê.

“Die leerders se lewens was op geen stadium in gevaar nie.”

Die skool het die polisie en KVD vir hul vinnige optrede bedank.

Lees ook:

https://standertonadvertiser.co.za/93062/man-wat-hom-telkom-werker-voordoen-steel-uit-kleinkas-laerskool-satnderton/

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button