BETHAL – ‘n Man (35) wat daarvan verdink word dat hy seksuele misdade teenoor verskeie meisies tussen die ouderdomme van 10 en 16 jaar gepleeg het, het onlangs in die streekhof op Secunda verskyn.
Dié pa van twee seuns is in Augustus verlede jaar in hegtenis geneem.
Daar is tans verskeie klagtes teen die man.
Die misdrywe het na bewering op Bethal en Secunda, meestal by familie-byeenkomste, plaasgevind.
Iemand van die gemeenskap het glo agtergekom daar is fout met ‘n meisie en het navraag gedoen waarna ‘n saak teen die man geopen is.
Die ma van een van die meisies word ook aangekla omdat sy versuim het om ‘n saak te open.
Die man moet weer op 26 Augustus in die hof verskyn wanneer die verhoor begin.



