Hendrik Strydom tree af na leeftyd in motoringenieurswese
Mnr. Strydom is terdeë bewus van die aanvraag na tegniese vaardighede in ’n ontwikkelende land soos Suid-Afrika en het die frustrasie, as werkswinkelbestuurder, laat blyk wanneer een werknemer weggaan.
Dit is nie dat mnr. Hendrik Strydom nie van verandering hou nie, dis net dat hy ‘n werk, waarvan hy hou, vir bykans 50 jaar by diesefde onderneming kon doen.
Hy het by die motoringenieurswerke Lindeque’s op Standerton op 2 Januarie 1968 aangemeld en behalwe vir ‘n jaar en drie maande nie in hul diens nie, sy hele werksloopbaan daar voltooi.
“Handewerk is my lyn en nie papierwerk nie,” het mnr. Strydom gesê.
Sy ambag as motormasjinis en passer is suksesvol afgelê en die werksomgewing het sy eiesoortige druk.
“Ysters is harde werk, fisies sowel as geestelik.”
Nog is dit het einde niet want hy het na die amptelike aftreedatum, ‘n verdere vyf jaar vir hulle gewerk en sy familie moes dié Mercedes-man oorreed om bietjie van sy geheime aan die koerant te verklap.
“Ek het al ‘n paar Mercedes-Benzes gehad en wie het al ooit ‘n spoedoortreding vrygespring?”
Hy het onder die oorspronklike eienaar mnr. Hans Lindeque sy vaardighede geslyp en daarna onder twee ander eienaars met ‘n werkswinkel wat doerietyd op agt werknemers gestaan het.
Mnr. Strydom is terdeë bewus van die aanvraag na tegniese vaardighede in ‘n ontwikkelende land soos Suid-Afrika en het die frustrasie, as werkswinkelbestuurder, laat blyk wanneer een werknemer weggaan.
“Dit is dan moeilik om so ‘n werker te vervang want ondervinding kan nie gekoop word nie.”
Hy is oorspronklik van die Greylingstad-omgewing waar sy pa geboer het en het aan die destydse Hoërskool Balfour gematrikuleer.
Hendrik en Sarie, wat in 1974 getroud is, bly al die jare nog in Meyerville, Standerton en uit die huwelik is drie kinders gebore, twee seuns en ‘n dogter, met twee kleinkinders wat ook hul opwagting gemaak het.
Hy voorsien ietwat swarigheid vir die Bokke as dit met hulle in die Rugby Wêreldbeker gaan soos met die Proteas, maar is duidelik nasietrots.
Op tuisbodem is die Lions die span wat hy met belangstelling dophou, dalk teen halftyd ‘n braaivleisvuurtjie aansteek?
Gepraat van kos, Sarie, die tuisteskepper, se domein is die kombuis vir sy gunsteling van vleis, rys, aartappels en pampoen.
“‘n Bord kos is nie kos as daar nie iets soets op is nie.”
Lindeque’s het op 28 Mei ‘n afskeidsete van hom by Die Kliphuis gereël in erkenning vir ‘n leeftyd se diens.
Dié man van min woorde se groot belangstelling bly motors, soveel so dat daar nie sprake van ‘n stokperdjie na aftrede hoef te wees nie.



