Local newsNews

MC Weldon praat vir die eerste keer oor die ongeluk wat sy lewe verander het

Mnr. MC Weldon (39) was op 25 Desember 2014 in Suid-Dakota in ’n botsing reg van voor met sy broer, mnr. Johan Weldon betrokke. MC het dié oggend sy beste vriend mnr. Werner Swart, ook as Shoepie bekend aan die dood afgestaan. Al drie is van Bethal afkomstig.

BETHAL – “Want ek hou nie van verloor of om moed op te gee nie!”

Na ’n ernstige ongeluk was dié gedagte die eerste wat mnr. MC Weldon gedryf het om weer op te staan en die lewe in die oë te kyk.

Mnr. Weldon (39) was op 25 Desember 2014 in Suid-Dakota in ’n botsing reg van voor met sy broer, mnr. Johan Weldon betrokke. MC het dié oggend sy beste vriend mnr. Werner Swart, ook as Shoepie bekend, aan die dood afgestaan. Mnr. Swart was saam met MC in die motor.

Vir die eerste keer na dié ongeluk was hy bereid om daaroor te praat.

Hy werk die afgelope jaar as ’n voerbestuurder op ’n plaas naby Bethal. Hy het homself geleer om weer te loop en eet, maar kan sy linkerhand net gedeeltelik gebruik. Hoewel MC ernstig beseer was het Johan minder ernstige beserings opgedoen. Johan werk steeds in die VSA en is getroud.

MC vertel: “Liefde en om weer te kan werk was vir lank net ’n droom. Nou het ek ’n wonderlike vrou wat my aanmoedig en opbou. Vir ’n lang tyd het ek gedink dat mense my nie weer sal werk gee nie. Wanneer ek vir ’n onderhoud gegaan het en die persoon so vir my geloer het, het ek vinnig agterkom hulle sien my net as ’n sukkelaar sien. Dit het my kwaad gemaak. Ek het so baie kennis en ondervinding.”

Die Weldon-broers en mnr. Swart was vroeg Kersoggend reeds besig om die trekkers op die plaas aan die gang te kry. Hulle wou hulle werk klaar maak sodat hulle Kersdag saam kon geniet en ontspan.

Mnr. MC Weldon gee sy beste vriend, Werner (Shoepie) Swart, in gelukkiger dae ’n soen.

MC het vertel: “Ons het besluit om gou dorp toe te gaan en sommer net van daai ontbyt pizza’s te kry. Terwyl ons oppad was, het Johan gesien dat daar nie koffie of suiker in die huis is nie. Johan het toe in sy bakkie geklim en was oppad dorp toe om dit te gaan kry.”

Dit was ’n baie winderige dag en het gesneeu. Omdat MC sy foon by die huis vergeet het, het hy omgedraai om dit te gaan haal. Op dié pad waar die twee broers in mekaar se rigting oppad was, is daar ’n blinde hoogte.

“Op die pad is daar ’n bult wat eers ’n skerp afdraende en dan weer ’n opdraende het. Terwyl ek en Shoepie oor die bult gekom het, het my broer op gery. Ons was haastig, die trekkers het al ‘gestart’ en ons wou klaar kry. Ons het glad nie mekaar se voertuie gesien nie en reg van voor teen mekaar gebots. Met die slag is ek deur die voorruit en teen my broer se bakkie vas. Dit is toe dat ek my wangbeen vergruis, kaak-, hand-, been- op twee plekke, elmboog-, arm- en bekken gebreek het.”

Hy het vir bykans twee ure in die sneeu gelê. Hoewel hy bewusteloos was, het hy vir ’n oomblik bygekom en na sy vriend geroep.

“Ek sal dit nooit vergeet nie. Terwyl ek daar lê het ek vir my bakkie gekyk en gesien hoe die ruit swart word. Dit het geklink soos hout wat brand en het geklap en knetter. Daai geluid spook nou nog by my. Die rook het begin uitborrel en terwyl ek nader probeer seil het, het ek geskreeu; ‘Shoepie! Shoepie!’, maar toe is ek net weer uit.”

Hul jonger broer het onraad vermoed nadat niemand vir werk opgedaag het nie. Hulle het rook in die verte gesien en besef dat daar moeilikheid is.

MC onthou hy het wakker geword terwyl sy broer vir hom opdrag gegee het om stil te lê. Hulle het komberse om en op hom gepak.

Hy het weer sy bewussyn verloor en eers vyf weke na die ongeluk in die hospitaal wakker geword. Mnr. Swart het sy nek tydens die ongeluk gebreek en was opslag dood. Hy het in die bakkie verkool.

Mnr. Weldon se linkerhand kan nie normaal funksioneer nie.

“Nadat ek in die hospitaal wakker geword het, het die dokters geleidelik met my gedeel hoe seer ek gekry het. Ek het herhaaldelik gevra waar Shoepie is, maar hulle het dit stil gehou omdat hulle bang was ek kry ’n terugslag. Hulle het my eindelik van die ongeluk vertel, maar ek wou hulle nie glo nie. Ek het vir lank geglo dat ek in die weermag was en gevlieg het. Ek het dit ook baie gedroom.”

Die worsteling om homself te vergewe het begin nadat hy besef het, Shoepie is dood.

“Ek het vir lank nie daarvan gehou om te hoor dat ek moet bly wees om te lewe nie. Hoe en waaroor moet ek bly wees? Daai tyd sou dit net makliker gewees het om ook dood te wees. My kort humeur is nie iets om op trots te wees nie, maar dit het my gedruk om aan te hou veg. Ek moes eers met myself klaar baklei. Daarna kon ek weer vreugde in die lewe vind.”

Hy was vir vier maande in die VSA in die hospitaal. Terwyl hy aangestrek het, het hy ’n beroerte gekry wat hom ’n groot terugslag gegee het. Geen breinskade kon vasgestel word nie. In ’n stadium het dokters gedink hy gaan sy regteroog verloor, maar hy kan nog baie goed deur dié oog sien.

“Ek sal graag vir jongmense wil sê, dat hulle alles moet probeer, maar die goeie behou. Hou wel matigheid voor oë en dink twee keer voor jy iets doen of sê. Ek het gedink dat ek onbreekbaar was en het dinge net op my manier gedoen. Die Man daar Bo het ander planne met ’n mens. Op die harde manier het ek geleer om die lewe, vriende, familie en vrou soveel meer te waardeer. Waardeer wat jy het. Waardeer jou werk en die feit dat jy nog kan werk.”

Sedert die ongeluk het van die drade wat in sy kaak gespan is, losgekom.

Dit veroorsaak dat hy sukkel om te praat en eet. Omdat hy vir so lank nie kon werk nie, kon en kan hy nie ’n mediesefonds bekostig nie.

Hy wil graag ’n rekonstruktiewe operasie op sy gesig ondergaan. Die regterkantse wangbeen moet opgebou word en sy kaak moet herstel word sodat hy meer gerieflik kan eet.

Indien enigiemand hom kan bystaan, stuur gerus ’n e-pos na reporter9@echoridge.co.za.

Mnr. MC Weldon wil graag ’n operasie ondergaan om sy wangbeen op te bou.

Related Articles

Back to top button