Tannie Nellie Potgieter se geheue is nog op die kop
Sy is ’n allemintige 64 jaar lid van die VLU en spog met so ’n lidmaatskapknopie.
Tannie Nellie Potgieter hoef geensins te wonder of haar geheue haar in die steek laat nie, want die kinders, kleinkinders en agterkleinkinders se getalle kom geredelik na vore.
Selfs een agterkleinkind, Dewald, het opgedaag om by te sit by die onderhoud nadat sy haar haarkapperafspraak op die Vrydag afgehandel het.
“Ek dink ‘n vrou het dit nodig vir haarself,” het sy gesê.
Terug by die nasate, sy het vier kinders, waarvan net Amanda en Janette leef nadat haar man, Dap, en Leon en Esmé in 1972 haar ontval het na ‘n motorongeluk op die Balfour-pad.
Die agt kleinkinders en vier agterkleinkinders sal dalk nog aandagtig kan luister na haar wedervaringe as kleuterskoolonderwyser.
Tannie Nellie het deels op Val en deels op Standerton skoolgegaan voordat sy die pad na die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege gevat het vir ‘n Junior Onderwysdiploma.
Met haar eerste aanstelling in Nancefield, Johannesburg was sy en Dap nog net verloof en hulle het eintlik maar ‘n klipgooi van mekaar grootgeword in die Val-omgewing.
Met ouers wat geboer het, was die Watervalrivier die grens tussen die twee plase en tannie Nellie sou dan later as huisvrou op die plaas, Groenvlei, fluks aangaan voordat die hoof van Laerskool Standerton se telefoonoproep haar lewe verander het.
Destyds was departementele regulasies bietjie anders wat enige feminis nou die blou aapstuipe sal gee.
“Jy beter jou man kry om ‘n brief te skryf dat jy mag werk,” het die hoof gesê.
So gesê, so gedaan en die gr. 1’s en gr. 2’s se nuwe juffrou het ingeval en soms met meer as een graadgroep in een klas.
“Dit was vir my heerlik om klas te gee.”
Die vraag wat sy kort-kort moes beantwoord oor hoe nou met verskillende grade in ‘n klas, is doelgerig beantwoord met die hersieningsfase wat van toepassing is op ‘n sekere ouderdomsgroep tot nuwe materiaal wat geleer moes word vir jong, ontvanklike gesiggies.
Haar onderwysloopbaan het oor sowat 30 jaar gestrek en dit was ‘n frustrasie as sy haar nie in die klaskamer kon uitleef nie.
Tannie Nellie se buurvrou het in 1955 haar aangemoedig om by die Vroue Landbou-unie aan te sluit en die destydse tak op Val het soms ‘n Engelse en dan weer Afrikaanse voorsitter gehad wat die demografie van die gebied weerspieël.
Sy is ‘n allemintige 64 jaar lid van die VLU en spog met so ‘n lidmaatskapknopie.
“Ek het baie kennis opgedoen en deelgeneem aan ‘n verskeidenheid van aktiwiteite.”
Maar wat nou van die brei en hekel?
Sy kon nie hekel nie en het ‘n hekelboek destyds vir vyf sjielings aangeskaf en haarself leer hekel en met die brei, het ma Nellie destyds ‘n buurvrou gehuur om haar te leer brei.
Tannie Nellie, wat nog self motor bestuur, is al donkiejare lid van die N.G. Kerk se Klipkerk en moet nie eens vra hoeveel doopplegtighede of troues sy bygewoon het nie. Te veel om op te noem, maar dit beteken nie sy het vergeet nie.



