Local newsNews

Sonja Botha van Secunda het al vyf beroertes oorleef

Selfbejammering is nie in me. Botha se woordeskat nie.

SECUNDA – Die vyfde beroerte was die ergste, veral so kort na die groot hartoperasie.

Me. Sonja Botha (42) moes hierna weer leer praat en sluk.

Sy vertrou dat hierdie die laaste beroerte sal wees.

Sy praat stadig en probeer haar woorde duidelik uitspreek, want haar tong sleep effe.

“Aan die begin het ek maar net alles neergeskryf,” het sy vertel, terwyl sy die naam van die siekte wat haar lewe onderstebo gekeer het, in ‘n netjiese handskrif neerpen: Sydenhamse Chorea.

Me. Botha het as kleinding glo gereeld mangelonstekening gekry wat later in rumatiekkoors ontaard het. Sydenhamse Chorea is ‘n seldame neurologiese afwyking wat as ‘n reuse komplikasie van rumatiekkoors beskou word. Dit kom meestal in vroue voor.

“Ek was sewe jaar oud toe ek daarmee gediagnoseer is. Ons het egter eers jare later, ná twee beroertes, uitgevind hoe erg die siekte my hart beskadig het.”

Haar hartklep was aan die verkalk.

Volgens me. Botha het die verkalking stuk-stuk in haar bloedstroom beland wat bloedklonte veroorsaak het en tot klein beroertes gelei het.

Met die eerste ligte beroerte, het haar lyf en mond aan die linkerkant lam geraak, maar dit het stelselmatig weer verbeter. Sy was toe swanger met haar seun, Marco (16).

Dié vriendelike jongman is vroeggebore en het skaars 1,3kg geweeg.

Sy sussie, Chanté, het twee jaar later, en baie weke te vroeg, haar opwagting gemaak. Op slegs 640g, was dié pienkvoet waarskynlik een van die kleinste babas wat die Mediclinic Highveld op Trichardt deurgehaal het.

‘n Egskeiding, stres en alles wat met enkelouerskap gepaard gaan, het volgens me. Botha tot beroertes in 2009 en 2011 gelei.

“Ek het slegs halwe sig in my linkeroog oorgehou,” het sy vertel.

Ná me. Botha ‘n permanente aanstelling as klerk by Sasol gekry het en sy weer liefde by mnr. Rudolf Botha gevind het, was nog ‘n beroerte nie in haar gedagtes nie.

Sy blom wanneer sy oor die man wat haar en haar kinders as sy eie koester, gesels. Hulle het mekaar vyf jaar gelede in ‘n kletsruimte onmoet en is sedertdien onafskeidbaar.

Hulle is drie jaar getroud.

Toe me. Botha in 2016 wel nog ‘n ligte aanval gehad het, is sy na ‘n spesialis by Unitas Hospitaal verwys. Hy het besluit om haar hartklep met ‘n metaalklep te vervang.

Dié operasie is in Julie 2017 gedoen, maar die einde van daardie jaar het die vyfde beroerte toegeslaan.

“Ek moet bieg, ek het nie na myself omgesien nie en wou so gou as moontlik terug werk toe gegaan het. Ek hou nie van so stilsit nie.”

Die terugslag het me. Botha net meer oorgehaal om werk te maak van haar herstelpad.

“Ek moes ‘n voedingsbuis in my maag kry omdat ek nie kon sluk nie. Dit was aaklig en ek het myself gedwing om te sluk. Stukkie-vir-stukkie het ek dit reggekry. Die spraak het ook met terapie verbeter.

“Gelukkig het ek wonderlike kollegas wat my ondersteun.”

Selfbejammering is nie in me. Botha se woordeskat nie.

“Watse ma sal ek wees en waste nalatenskap sal ek vir my kinders los, as ek net gaan lê? ”

Marco beaam sy ma se uitkyk op die lewe.

“My ma is die sterkste mens wat ek ken. Sy verbaas my elke dag.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button