Hans Bosch geniet Bybelverspreiding en houtwerk
Man leef passie uit in sy stokperdjie

SECUNDA – Mnr. Hans Bosch is uitgeknip vir avontuur en het al Bybels by lande soos Viëtnam en Egipte ingesmokkel.
Hy het in 2004 by die Bybelverspreidingsorganisasie, Geopende Deure, betrokke geraak toe hulle die kerk waar hy ‘n lidmaat was, besoek het.
“Hulle het films gewys van hoe hulle Bybels insmokkel na ander lande en ek het gedink dis laf om dit te doen, maar ‘n jaar later was ek daar,” het hy vertel.
“Alles is baie goed georganiseerd in Viëtnam om die Bybels by die Christene uit te kry.
“Die Moslems daar wat tot bekering kom, word vervolg en doodgemaak.”
Die groep het eers ‘n paar dae in Manila in die Fillipynse Eilande deurgebring waar hulle ook die Evangelie verkondig het en Bybelverspreiding gedoen het.
Mnr. Bosch het vertel van ‘n Moslem-vrou in Manila wat tot bekering gekom het en dieselfde dag nog moes vlug vir haar lewe.
Vanaf Manila het die groep van 15 mans na Ho Chi Min City in Viëtnam vertrek.

Mnr. Bosch glo dit is ‘n wonderwerk dat die doeane-beamptes op die lughawe in Viëtnam nie een van die Bybels wat in die mans se sakke versteek was, gesien het nie.
“Elkeen van ons moes 30 Bybels in ons bagasie versteek.
“Ons het dit toegedraai om soos geskenke te lyk.
“Toe ek deur die doeane gegaan het, kon ek duidelik op die rekenaarskerm die Bybels gesien het toe my sak deur die skandeermasjien beweeg het, maar op daardie stadium het al die doeane-beamptes vir my gekyk omdat ek so lank is en niemand het op die rekenaarskerm gekyk nie.”
Bybelverspreiders wat al gevang is, word gedeporteer of in die tronk toegesluit.
“Dit hang af hoe die polisie en doeane-beamptes voel die dag.
“Al die mense wat reg agter ons gestaan het, se bagasie is oopgemaak en deursoek.”
In Ho Chi Min City het mnr. Bosch en ander lede van die groep vir 40 minute op ‘n motorfiets na ‘n ondergrondse kerk gery wat eintlik net vyf minute se ry vanaf die hotel is waar hulle tuisgegaan het.
“Die motorfietsbestuurder het verskeie kere verby dieselfde plekke gery om seker te maak niemand agtervolg ons nie.
“Toe ons by die kerk wat goed versteek en soos ‘n gewone huis gelyk het, gekom het, moes ek deur ‘n valdeur beweeg.
“Ek kon net vir sowat 20 minute preek.
“Ek moes my skoene uittrek en by die voordeur los en toe ek klaar gepreek het, het ek my skoene weer by ‘n ander deur gekry waar die motorfietsbestuurder my ingewag het.
“Twee mans het met slypmasjiene buite die gebou gewerk om die klank van hul lofprysing binne die gebou uit te doof.”
Hy was beïndruk met Christene van dié lande wat elkeen net een bladsy van die Bybel het en dan daardie bladsy uit hul koppe ken.
Mnr. Bosch se stokperdjie is om houtwerk te doen en van penne tot hefbome vir knipmesse te maak.
Hy fokus daarop om duursame meubels wat banke, stoele en tafels insluit, te maak.
Hy woon al 40 jaar op Secunda en het vir jare by Sasol as instrumentmaker gewerk. Hy was ook later die sportbeampte by die Sasol Ontspanningsklub.
Mnr. Bosch en sy vrou, Hettie, het Secunda in 2001 vir George in die Kaap verruil waar hy houthuise gebou het.
Hulle het egter in 2010 teruggekeer na Secunda en hy het weer by Sasol as kontrakteur in gebou-instandhouding gewerk. Me. Bosch, ‘n kankerlyer, is verlede Augustus dood.
Mnr. Bosch se pa het hom geleer hoe om houtwerk en metaalwerk, wat van kleins af ‘n passie vir hom was, te doen.
Hy hou daarvan om besig te bly en doen ook lasergraveerwerk op penne en geskenke.
Hy is ook tuis in die kombuis en maak daagliks melkkos op bestelling.
Dié avonturier beplan om ‘n motorfiets aan te skaf en na die Kaap, Namibië en later Botswana te toer.




