Bethal het behoorlik gegons tydens die Hoëveld Koorfees
Die Hoëveld Koorfeesweek het plaaslike volwasse- en ook laer- en voorskoolsekore die kans gebied om voor ’n gehoor op te tree.
BETHAL – Nie eers Bethal se waterkrisis kon vanjaar se Hoëveld Koorfees stuit nie.
N.G. Moedergemeente se tradisionele biltongaand is vanjaar op 23, 25 en 26 Julie, met ‘n koor- en musiekfees gekombineer.
Koorlede van die dorp het saamgespan om ‘n groot dorpskoor op die noot te bring terwyl die gemeenskapslede saamgespan en water aangery het.
Skoolkore het in die kerk op 23 en 25 Julie opgetree en opkomende kunstenaars, jeugkore en die dorpskoor het tydens die gala-aand op 26 Julie in die kerksaal die gehoor vermaak.
Die Hoëveld Koorfeesweek het plaaslike volwasse- asook laer- en voorskoolsekore die kans gebied om voor ‘n gehoor op te tree.
Marisa Joubert en Luhan Blom het as jong kunstenaars hulle goed van hul taak gekwyt.
Die saal was van hoek tot kant vol en biltong en droëwors het almal se kake aan die kou gehad.
Mnr. Jannie Viljoen, een van die organiseerders, het gesê dat hulle hoop om die Koorfees ‘n jaarlikse instelling te maak.
Bethal Dorpskoor, Hoëveldrif Streekkoor, Marisa Joubert, Luhan Blom, Dennis East, Billy Forrest, Dalene Genis en Hoëveld Jeugkoor het tydens die gala-aand opgetree.





