Nuwe gesig, nuwe lewe, ’n kykie deur jong Bethal fotograaf se lens
“Min het ek geweet dat as, met die klem op ás, ek weer my oë sou oopmaak, ek nooit weer dieselfde sou lyk of wees nie. My gesig was van my oë af ondertoe vergruis,” het ’n emisionele me. Tersia Drotsky (42) vertel. Dokters moes haar gesig soos ’n legkaart aanmekaar probeer sit.
BETHAL – “Min het ek geweet dat as, met die klem op ás, ek weer my oë sou oopmaak, ek nooit weer dieselfde sou lyk of wees nie. My gesig was van my oë af ondertoe vergruis,” het ‘n emosionele me. Tersia Drotsky (42) vertel.
‘n Motorongeluk het op 20 Junie 1999 haar gesig en lewe aan flarde geruk.
Sy was ‘n jong 22-jarige vrou, vol lewe en lag wat as duikbeplanner op Sodwana gewerk het.
Die ongeluk het onderweg van Sodwana na Leandra gebeur. Sy was op pad om vir haar ouers te gaan kuier.
Van me. Drotsky se ander familielede het in twee ander motors saam met haar in ‘n konfooi gery.
Drie van haar niggies was saam met haar in die motor. Hulle het in die middel van die konfooi gery.
“Ons het in Pongola gestop om te eet. Ek onthou nog dit was baie koud. Ek het ‘n warmbaadjie met ‘n pofferige kappie aangetrek. Die kappie het gekeer dat my nek met die impak nie gebreek het nie. Ons het by ‘n stopteken gestop, terwyl ‘n man die stopteken van sy kant af geignoreer het.”
Dié man se motor het hulle aan die bestuurder se kant getref.
Nooddienswerkers het lank geskukkel om haar uit die wrak te bevry. Hulle kon nie uitmaak waar haar mond of neus is nie omdat alles vergruis en bebloed was.
“Ek kan net die slag onthou. Verder weet ek van niks nie en is dankbaar daaroor. My niggies is gelukkig nie ernstig beseer nie.”
Dokters het haar gesig soos ‘n legkaart aanmekaar probeer sit.

Omdat jou liggaam na ‘n sekere tyd self begin heg, wou dokters nie tyd mors nie en het dadelik aan haar gesig begin werk.
“Hulle het nie ‘n foto van my gehad wat hulle as riglyn kon gebruik nie. My ma het vir my reaksie gevrees as ek myself weer vir die eerste keer in ‘n spieël sou sien. Ek wou badkamer toe gaan en kon sien my ma hou haar asem op. My eerste woorde was, ‘ek lyk soos ET.”
Sy het ‘n nekstut gedra wat om haar kop en borste vasgetrek het.
Omdat sy aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel was, was daar ‘n insnyding in haar lugpyp.
“My kake was aanmekaar geheg, daar was nie ‘n neus nie, my lippe was die een steek op die ander en ek was tandloos!”
Buiten die trauma en beserings, het haar destydse kêrel haar een kyk gegee en ‘weggehol’.
Haar familie het haar ondersteun en gemotiveer om nie moed op te gee nie.
Sy glo dat dit hulle omgee en liefde is wat haar die stryd kon laat stry.
‘n Titanium-kaakstel is in haar gesig ingebou.
Dokters het been uit haar skedel gesny en daarmee vir haar ‘n neus gebou en ook ‘n veloorplanting gedoen.
Haar lippe is opgebou en die tandarts het vir haar nuwe tande gemaak.
“Omdat my kaak so effe skeef geheg het, moes die tandarts mooi meet en pas. Ek kan weer glimlag en is dieselfde mens, maar is innerlik baie sterker.”
Die man wat in hulle vasgery het, is vir dronkbestuur aangekla en skuldig bevind.
Deur al die gebeure het sy geleer om nooit te vra waarom dit met haar gebeur het nie.
Sy is intussen getroud en hoewel sy haarself aanvaar het, skuil sy tog agter haar kamera se lens.
Haar talent vir fotografie spreek vanself en sy is baie lief vir haar werk.
Dit het bykans ses jaar geneem om alles weer ‘in plek’ te kry.




