Jason English ontvang chemoterapie na bestralingsessies voltooi is
Die gesin het die gemeenskap van Standerton vir hul ondersteuning bedank nadat hulle uit alle oorde onderskraag is.
Die English-gesin van Standerton gaan deur diep waters nadat klein Jason wat nou in gr. 6 is, met sarkomakanker gediagnoseer is.
Die moeilike pad het in April begin toe hy van aanhoudende oorpyn gekla het.
“Ek was gewoond aan sy sporadiese oorpyne en sou onder normale omstandighede bloot oordruppels by die apteek kry,” het ma Mariaan verduidelik.
Sy het egter ‘n afspraak die Maandag by ‘n plaaslike dokter gemaak, juis die week dat Jason by Laerskool Standerton geassesseer is.
Die diagnose was oorinfeksie en ‘n vyf-dag-kursus van antibiotika moes voltooi word, maar teen Sondagoggend was hy skeel in die linkeroog.
Mariaan het werk van die saak gemaak en Jason by ‘n oogkundige, mnr. Herman du Preez, teen Dinsdag gekry.
Mnr. Du Preez het swelling op die oogsenuwees bespeur, die erns van die saak begryp en self ‘n afspraak met ‘n spesialis in Pretoria gereël en met hul aankoms in Pretoria die volgende dag, het dr. Riel de la Bat hulle ingewag.
Sy diagnose was dat ‘n virus Jason se sentrale senustelsel aangeval het en die jong kind is dadelik in die Kloof Hospitaal opgeneem.
Nadat Jason neurologies positief getoets het vir die herpes-virus, is met kortisoonbehandeling van 10 dae begin.
‘n Internis het daarna die tydaspek bevraagteken van wanneer die oorpyn ontstaan het totdat Jason se ogie skeef getrek het en ‘n breinskandering laat doen.
‘n Gewas in die sinusholte van die linkeroog is gevind en ‘n operasie het gevolg waar die are eers toegemaak moes word by die Unitas Hospitaal om bloeding te vermy, voordat die bolippie opgelig kon word en die kakebeen gesak word.
Die blote herinnering aan die gebeure is nog vars in die geheue.
“Dit was die ergste dag van my lewe,” het Mariaan laat blyk.
Pediatriese onkoloë het die sarkoma behandel en 29 sessies bestraling is in die vooruitsig by die Unitas Hospitaal gestel.
Jason mag ook nou net sekere soorte seep gebruik.
Chemoterapie is nog vir 11 maande nodig en sy ma, met haar kop vir syfers, het die logistiek daaromtrent in weke omskryf vir sy hoë-risiko-chemobehandeling.
Daarbenewens is daar verblyfonkoste en dieseluitgawes wat die gesin die afgelope paar maande moes betaal en hoewel hulle ‘n mediese fonds het, stroom die rekeninge in.
Die gesin het die gemeenskap van Standerton vir hul ondersteuning bedank nadat hulle uit alle oorde onderskraag is.




