Local newsNews

Ann van Meyeren benut haar aftrede doelgerig

Laerskool Kalie de Haas het haar vir 21 jaar ingespan as onderwyser en sy het uiteindelik na agt jaar die klaskamerdeur by Standerton Akademie toegetrek.

Ann van Meyeren, afgetrede laerskoolonderwyser, het moontlik ‘n ding oor name en uitspraak, sy is Valerie Ann, sonder die ‘e’, haar dogter is Valerie Melony en nie Melanie, haar oorlede pa het haar ‘Sweetie Pie’ genoem en nou staan sy in familiekringe as ‘Paaitjie’ bekend.

Dié Oos-Vrystater het op die plaas Mooifontein grootgeword wat so tussen Reitz en Bethlehem geleë is, waar haar pa die eerste boer was wat Friesperde aangekoop het,

“My pa was die eerste boer in die Vrystaat wat vier Friesperde aangeskaf om my met ‘n perdekarretjie kerk toe te ry,” het Ann gesê.

Hy het ‘n gemengde boerdery bedryf, maar hulle was ‘n perdefamilie en het, met die uitsluiting van Ann, graag aan polo deelgeneem.

Ann het die skouarena betree en was ‘n gereelde deelnemer by die voormalige Oos-Vrystaatse skoue.

Sy het by ‘n kampioenskap haar arm gebreek.

Dit is egter die sport netbal wat haar hart warm laat klop en maak geen fout nie, sy sou die die Proteas se vertoning by die Wêreldspele vanjaar aandagtig dopgehou het.

“‘n Mooi netbalwedstryd is mooier as die mooiste rugbywedstryd.”

Die voormalige netbalafrigter en -skeidsregter het ook op die voormalige Suidoos-Transvaal-netbalbestuur as voorsitter vir 15 jaar gedien.

Ann se onderwysloopbaan het by die destydse Bloemfontein Onderwyskollege begin, ‘n graadkursus by Kovsies het gevolg, voordat sy op Vrede aangemeld het om al die vakke vir die gr.4’s te gee.

Sy het haar man, Theuns, in KwaZulu-Natal ontmoet en hulle is in 1977 op Bethlehem getroud, met Theuns wat daarna Vrede toe getrek het.

Die van Meyerens het in 1989 na Standerton verhuis.

Laerskool Kalie de Haas het haar vir 21 jaar ingespan as onderwyser en sy het uiteindelik na agt jaar die klaskamerdeur by Standerton Akademie toegetrek.

Maar van ophou, is daar nie sprake nie want Ann gee nou ekstra klasse.

Die rede vir die aftrede wentel om haar gesondheid nadat ‘n ortopeed aanbeveel het dat sy dit liefs moet oorweeg en die sondebok is sportbeserings, nadat sy op skool in hokkie en atletiek se spiesgooi en gewigstoot presteer het.

Nou maak en herstel sy klere met die Bernina en omkapmasjien wat gereed op die kombuistafel staan, doen kunsnaaldwerk, is lief vir tuinmaak en glo of te nie, sy maak ook haar eie handeroompies met afsetpunte sover as die Paarl.

Moet nie verbaas wees om die aroma van gebakte skaapboud met aartappels in die sous gebraai, in hulle huis te ruik nie.

Die onderwysgee lê haar egter na aan die hart.

“As jy kan werk met God se kosbaarste besittings, is jy ‘n ongelooflike bevoorregte mens.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button