Gerickes skakel gou by gemeenskap in
Hul vorige gemeente verskil ietwat van die boeregemeenskap op die dorp waar die gasvryheid en belangstelling van mense ’n blywende indruk maak.
Ds. Henk Gericke en sy vrou, Santie, van die Evangelies Gereformeerde Kerk, is reeds ingeburger op Standerton.
Dié egpaar het hul intrek in die pastorie op 19 Junie geneem, al die pad van Orkney af.
Dit is die leraar se vierde gemeente as ‘n mens sy praktiese jaar op Springs in ag neem met ‘n vorige bediening so wrintiewaar, ook op die Hoëveld, op naburige Volksrust.
Nadat hy sy studies na vier jaar by die kerk se kweekskool in die ooste van Pretoria voltooi het, is hy na Springs waar hy Santie ontmoet het.
Hulle is in 2005 getroud en ‘n week later het hy amptelik die preekstoel ingeneem.
Na hul wittebrood by Wees Gerus op Modimolle (Nylstroom), is dit steeds ‘n gewilde vakansiebestemming om die stilte van die natuur behoorlik te beleef.
Santie het ‘n tweejaarkursus afgelê om die eise wat aan ‘n predikantsvrou gestel word, sodanig haar eie te maak dat sy hom kan bystaan.

Die Gerickes het een 12-jarige dogter, Johlindie, wat nou by Laerskool Kalie de Haas skoolgaan, terwyl hul seun, Jeandré, ‘n koshuisbrak op Orkney is en Sharlize planne vir die grootmenswêreld in die mou voer.
Hul vorige gemeente verskil ietwat van die boeregemeenskap op die dorp waar die gasvryheid en belangstelling van mense ‘n blywende indruk maak.
“Selfs by die skool is ek gegroet en die belangstelling was opvallend,” het Santie laat blyk.
Almal in die 80-lidmaat-gemeente weet ook waar die pastorie is en hoe dit lyk.
Dié dominee hou ook gereeld sy lyf treindrywer as die treintjie, ‘n ‘quad’ met ses waentjies, by die worsbroodjieverkope op Saterdae by Park Motors die jongklomp vermaak.
Wat sou dan sy pot lensiesop wees?
Ongetwyfeld die gebakte hoender en roomaartappels.
Die Gerickes het dadelik kon inskakel by die gemeenskap en ds. Henk het dit soos volg verwoord:
“Ons is nie net hier vir die gemeente nie, maar vir die gemeenskap.”



