Local newsNews

Paramedikus raai ander aan om ook na hul eie gesondheid om te sien

Sy hart het vier keer opgehou klop en was daar vir langer as 40 minute kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op hom toegepas

SECUNDA – Iemand het hom “raakgebid”.

Dit is die enigste verduideliking waaraan mnr. André Momberg (38) kan dink hoekom hy steeds leef.

Mnr. Momberg is ‘n gevorderde lewensondersteuningsparamedikus aan die stuur van ER24 se Oostelike Hoëveldstreek.

“Juis daarom moes ek eintlik die tekens van ‘n hartaanvaal gesien het,” het hy vertel.

Hy het op 15 Junie ‘n massiewe hartaanval gehad.

Sy hart het vier keer opgehou klop en daar is vir langer as 40 minute kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op hom toegepas.

“In die 18 jaar dat ek in die nooddienste werk, het ek wel al gesien dat kinders wat byna versmoor of verdrink het, bygebring kan word, maar om vir so lank sonder suurstof te wees en agterna niks te makeer nie, veral by volwassenes, is ‘n wonderwerk,” het hy gesê.

Mnr. Momberg kan dele van die dag toe sy lewe byna weggeruk is, nie onthou nie, maar sy vriende kan. Hy is die hondeman by die StratconRisk-span en hulle het juis dié dag taktiese oefeninge gedoen.

Volgens mnr. Jacques Alberts van StratconRisk was mnr. Momberg se woorde aan die res van die span tydens hul oefensessie, ‘n groot aansporing hoekom hulle nie op hom opgegee het nie.

“Mommies het daardie oggend aan ons en voor God ‘n belofte gemaak as iets ooit met een van ons gebeur, hy alles in sy vermoë sou doen om ons aan die lewe te hou en nie sal opgee nie,” het mnr. Alberts vertel.

Die span het ná hul oefening die Fireplace Roadhouse besoek. “Ek het nie lekker gevoel nie en wou nie juis saamgaan nie, maar Allie (mnr. Alberts) het daarop aangedring dat ons as ‘n span saam bid, oefen en eet. Ek weet nie eens hoe ek tot by die eetplek gekom het nie,” het mnr. Momberg verduidelik.

Hy is dankbaar dat hy juis deur mense wat opgelei is om noodgevalle te hanteer, omring was toe ‘n aar links aan die onderkant van sy hart toegeslaan het. Mnr. Nico Stapelberg, ‘n paramedikus wat ook in hul oefenspan is, het dadelik aan die werk gespring. Me. Madrenline Meintjies het blitsig ER24 se ambulans op die toneel gekry.

Mnr. Momberg was binne minute by die ongevalle-afdeling van die Mediclinic Hoëveld ingestoot.

Sy hart het weer twee keer gaan staan. Mnr. Stapelberg het glo onverpoosd aangehou om hartmassering toe te pas, al het dit naderhand gelyk of als reeds verby is.

Ná wat soos ure vir sy span gevoel het, het mnr. Momberg weer ‘n hartklop gehad. Hy is per helikopter na die Midstream Hospitaal in Pretoria vervoer.

Gebedskettings en –groepe vanuit alle oorde, selfs oorsee, het vir mnr. Momberg se genesing gebid.

Hy is in die intensiewe sorgeenheid opgeneem waar hy bloed ontvang het. ‘n Stent is in sy aar geplaas.

Hy het egter verstommend vinnig herstel. Binne vier dae is hy na ‘n gewone saal oorgeskuif en drie dae later ontslaan.

Mnr. Momberg het op 5 Augustus weer sy kardioloog besoek. “My hart lyk glo beter as ooit.”

Dié pa van ‘n 11-jarige tweeling en ‘n vierjarige woelwater is dankbaar vir almal wat hom bygestaan en vir hom gebid het.

Hy maan ook ander nooddienswerkers om na hul eie gesondheid om te sien. “Ons raak so besig met ons werk, dat ons soms belangrike goed in ons eie gesondheid miskyk.”

Mnr. André Momberg is dankbaar om nog te leef. Hier is hy saam met sy geliefde, Madelein en hul vierjarige seuntjie, Handré.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button