Chris Botha skryf kinderboeke en leesboeke vir skole na aftrede
Oud-onderwyser skryf leesboeke vir skole
EVANDER – Mnr. Chris Botha (71) skryf tans sy vierde kinderboek, Kaboutertjies, wat binnekort gepubliseer word.
Mnr. Botha het kinderboeke en leesboeke wat in skole gebruik is, begin skryf nadat hy afgetree het.
Een van sy kinderboeke, Semels, handel oor ’n hond en die avonture wat deel uitmaak van sy daaglikse bestaan.
Dié boek is spesifiek vir tieners geskryf en is in 2017 gepubliseer.
Sy tweede kinderboek, Die Tjommeltjies, vertel die storie van klein mensies wat in die strate woon.
Hy het 42 jaar lank skoolgehou en het sy loopbaan in die onderwys baie geniet.
Hy was vanaf 1998 tot 2002 ’n Afrikaanse onderwyser by Laerskool Hoëveld op Evander.
Die skool het hom in 2005 genader om weer te gaan skoolhou en mnr. Botha is terug na Laerskool Hoëveld.
Hy het later ook ’n draai by Laerskool Krunpark gemaak.
Sy vrou van die afgelope 41 jaar, me. Cecile Botha wat hy destyds op die onderwyskollege ontmoet het, is ook ’n onderwyser.
Sy werk sedert die begin van 2019 by Laerskool Hoëveld as aflosonderwyser en gee skool vir die spesiale klas.
“Toe ek afgetree het, het een van die departementshoofde vir my gevra hoekom skryf ek nie kinderboeke nie,” het mnr. Botha vertel.
So het hy begin om ’n reeks leesboeke vir gr. 1-7-leerders te skryf wat aan Depicta, ’n onderneming wat hoofsaaklik boeke en opvoedkundige produkte aan kinders voorsien, verkoop is.
Hy het ’n paar jaar later nog ’n reeks leesboeke geskryf en dit aan verskeie skole verkoop.
“Die kinders lees nie meer op skool nie, so hulle gebruik nie eintlik meer leesboeke nie,” het mnr. Botha gesê.
Hy het toe begin kom kinderboeke te skryf en het ook een roman, Wanneer die Liefde Blom, geskryf wat in 2016 gepubliseer is.
Mnr. Botha hou daarvan om besig te bly en bak beskuit wat hy verkoop aan ’n slaghuis op Evander en die personeellede by plaaslike skole.
Hy geniet dit ook om houtwerk te doen op aanvraag en kan tafels maak en kombuiskaste installeer.
“Ek geniet dit om te werk en die Here het my die vermoë en geleenthede gegee om dit te doen.”
Mnr. en Me. Botha het nooit kinders van hul eie gehad nie, maar hy reken daar was genoeg kinders by die skool.




