Secunda-inwoner verban “Piet” vir eers, maar hoop hy leef voort
“Jy sien, die ding het eintlik begin toe ek en Ricky Louw (Richelieu-brandewyn) Sondag begin braai het,” het mnr. Graham verduidelik. Dit is die einste Ricky Louw wat later vir Piet oorgenooi het om saam te kom kuier.

SECUNDA – Eers was daar oom Frikkie, toe skater die land vir Marelize en haar fietsryvernuf. Nou soek die wêreld saam na Piet.
‘n Selfoonvideo van ‘n man wat vir Piet by ‘n motorwrak soek en ook drukkies aan die polisie wou uitdeel, het verlede week vir groot vermaak op sosiale media gesorg.
Grappies op sosiale media het oornag opgepop en soos ‘n veldbrand versprei.
Die een wat wel weet waar Piet vandaan kom en waar hy tans is, is mnr. Sydney Graham (47) van Secunda.
Hy het verlede week gebieg dat hy die man in die video is wat so nonchalant as moontlik langs die wrak van sy Toyota Corolla staan en met die polisielede op die ongelukstoneel voor Megchem se kantore in Horwoodstraat gesels.
Mnr. Graham se motor het op sy dak, teenaan die palissade-omheining te lande gekom.
Dit is duidelik nie ‘n goeie idee om die stuurwiel aan jou denkbeeldige maatjie te gee wanneer jy te veel gekuier het nie.

“Piet is eintlik ‘n blikskottel,” het mnr. Graham vertel.
“Hy het my al uit ‘n paar dinge. Nou het hy my boonop uit my wiele en my valstande en sit ek met al hierdie probleme.”
“Jy sien, die ding het eintlik begin toe ek en Ricky Louw (Richelieu-brandewyn) Sondag begin braai het,” het mnr. Graham verduidelik.
Dit is die einste Ricky Louw wat later vir Piet oorgenooi het om saam te kom kuier.
“Piet” kom te voorskyn wanneer mnr. Graham ‘n paar knertsies te veel gedrink het.
“Dan maak hy droog.”
Mnr. Graham kan nie veel meer van die aand se gebeure onthou nie – nie hoe of hoekom hy in die dorp opgeëindig het nie.
“Hy kan ook nie onthou waar hy en Piet verder sou gaan kuier het nie.
“Ek onthou net ek het my skielik op my rug bevind en my sigarette was langs my.”
Ja, hy voel skaamkwaad oor sy skandes wat so op die video vasgevang is.

“Maar, darem kan my familie nou daaroor lag en praat my vrou weer met my. Ek is meer famous as oom Frikkie.”
Sy mense ken hom maar as ‘n grapkas en “stoutgat”.
Volgens mnr. Graham het hy eintlik maar net die polisievrou gevra of sy ‘n drukkie wou hê, want sy het “rerig naby” aan hom gestaan.
Sy gejakker saam met Piet het nie net veroorsaak dat sy motor afgeskryf is nie, maar het ook vir heelwat beserings gesorg.
“Ek het steke in my oor. Ek dink my neus is gebreek. My lyf is baie seer, veral hier by my rug.
“Ek is eintlik gelukkig om so lig daarvan af te gekom het. Die kar lyk sleg,” het dié wielsporingstegnikus vertel.
“Ek het die volgende oggend wakker geword met my kinders om my. My dogter het my hospitaal toe geneem.”
Mnr. Graham het die aand op die ongelukstoneel daarteen geskop om hospitaal toe geneem te word.
Mnr. Eben Fourie van JTR-insleepdienste het naderhand met die polisie se toestemming, mnr. Graham huis toe geneem. “Dit was koud die aand en die oom het die koue begin voel,” het mnr. Fourie vertel.
“Teen daardie tyd was hy baie meer bekommerd oor die kar en die gereedskap binne die kar as oor Piet.”
Mnr. Graham het gesê Piet en Ricky Louw is vir eers by sy huis verban.
“Maar Piet het so groot opskudding veroorsaak dat hy nou maar moet voortleef.”
https://www.citizen.co.za/ridge-times/145199/kyk-secunda-se-piet-wat-spoorloos-verdwyn-het-opgespoor/



