Klein Marnu (5) is bykans klaar met chemo-behandeling
Seuntjie doen goed met kankerbehandeling
SECUNDA – Me. Annezell Janse van Rensburg (28) het op dieselfde dag dat sy uitgevind het sy verwag ‘n dogtertjie, ook uitgevind haar seuntjie, Marnu Prinsloo (5) wat toe net drie jaar oud was, het kanker.
Marnu is in 2017 met leukemia gediagnoseer.
Me. Janse van Rensburg het agtergekom dat Marnu baie bleek is, blou kolle regoor sy liggaam gehad het, sy kliere geswel was, hy gereeld koors gekry het en maagpyn gehad het.
Hy was net nie homself nie.
Sy het hom na die gesin se huisdokter op Secunda geneem wat hom na ‘n kinderdokter op Trichardt verwys het.
Dié dokter het bloedtoetse gedoen en hom later na Steve Biko Hospitaal verwys omdat sy vermoed het hy het bloedkanker.
“Dit was ‘n groot skok vir ons. Dit voel of jou wêreld onder jou uitgeruk word as jy sulke nuus kry,” het me. Janse van Rensburg gesê.
Me. Rouxlene Prinsloo, Marnu se ouma, het gesê dit het gevoel of ‘n berg op haar geval het die dag toe sy die nuus gekry dat Marnu kanker het.
“Ek sal daardie dag nooit vergeet nie,” het me. Prinsloo gesê.
“‘n Mens dink dadelik aan die dood as jy die woord kanker hoor, maar dit beteken nie noodwendig dood nie.”

Dit gaan goed met Marnu en hy is nou, na vele chemosessies, in remissie.
Hy ontvang steeds chemoterapie, maar nou net een keer per maand en nie meer elke tweede dag of elke tweede week soos twee jaar gelede net nadat hy gediagnoseer is nie.
“Daar is verskillende soorte bloedkanker en Marnu is met, as ‘n mens dit so kan stel, die mees geneesbare een gediagnoseer,” het me. Prinsloo gesê.
Die gesin sien uit na Junie volgende jaar wanneer Marnu met sy chemobehandeling sal klaarmaak.
“Die chemobehandeling maak hom baie moeg en sy hare het ook uitgeval,” het me. Janse van Rensburg gesê.
Marnu hou net soos enige ander seuntjie van sy ouderdom daarvan om met karretjies te speel en hy is baie lief vir sy sussie, Mariné, wat in Oktober haar tweede verjaarsdag vier.
September is kinderkankermaand en me. Janse van Rensburg wil mense bewusmaak van kinderkanker en aanmoedig om gereeld hul kinders vir ondersoeke te neem.
Brongitis kan lewensgevaarlik wees vir kinders soos Marnu wat teen kanker veg en ‘n gewone virale infeksie kan sy dood veroorsaak.
Die gesin het twee maande gelede toe Marnu brongitis gehad het, groot geskrik en was bang hy kry ‘n terugslag.
Die chemobehandeling wat hy ontvang, veroorsaak dat sy bloedtelling baie laag is en dit tas sy liggaam se vermoë om siektes te beveg, aan. Hy moes al verskeie kere bloedplaatjies ontvang om seker te maak sy bloedtelling is reg.




