Local newsNews

Elizka Erasmus van Standerton sterk aan na tweede operasie

Bloed is dikker as water en hulle familie het met raad en daad, asook liefde, die gesin bygestaan.

Me. Rika Erasmus van Standerton se ma het destyds vir haar werk gekry by die Standerton Hospitaal, min wetende dat dié opleiding handig te pas sal kom.

Dié ingeskrewe verpleegkundige by patologiedienste se 18-jarige dogter, Elizka, is met tongkanker gediagnoseer, het twee operasies ondergaan en haar 21-jarige seun, Renier, ly aan epilepsie.

Renier het albei kere wat sy sus geopereer is, aanvalle gehad.

Die nuus van Elizka het Rika onverhoeds betrap.

“Ek was eers opstandig en kwaad, maar my geloof het sterker geword,” het sy laat blyk.

Die pad wat die Erasmusse moes stap met die gewas wat by dié matriekdogter verwyder moes word, het op 21 Junie begin toe die eerste biopsie by die Wilgers Hospitaal in Pretoria onder leiding van dr. Robbie Viljoen gedoen is.

Elizka was na die operasie op 1 Julie vir twee dae in die hoësorgeenheid en Rika se gedagtes het onvermydelik teruggegaan na die jaar van haar geboorte toe Rassie, haar man, ‘n aflos-stasiebevelvoerder by die Standerton Polisie, die hoogste prys betaal het in die uitvoering van sy pligte.

Renier lê pens en pootjies saam met Elizka op die hospitaalbed. (Foto: Verskaf)

“Elizka se diagnose was die tweede tragedie in my lewe.

“Hoekom moes my kinders sonder ‘n pa grootword?”

Al die rekeninge is nog nie aan Rika gestuur nie met Elizka wat aan die einde van die jaar nie meer aan haar pa se fonds mag behoort nie.

Die koste verbonde aan opname in die hospitaal vir die eerste operasie, het op R71 000 te staan gekom.

Nadat ‘n baie aggressiewe kanker gediagnoseer is, is ‘n tweede operasie op 23 Augustus, weer deur dr. Viljoen, uitgevoer.

Die kliere in Elizka se nek was ook reaktief en is vir histologietoetse gestuur.

“Dankie Vader, daardie kliere is skoon!”

‘n Onkoloog by die hospitaal het egter ‘n kliertjie geïdentifiseer wat dopgehou moet word.

Die span medici het Elizka ses weke gegee om te herstel voordat skanderings van haar nek en buik gedoen sal word.

Elizka Erasmus het twee drie-uur-lange operasies ondergaan en sterk tuis aan. (Foto: Verskaf)

Twee-derdes van Elizka se tong is tydens die eerste operasie afgesny, maar haar spraak is nie sodanig aangetas nie, hoewel ‘n spraakterapeut se dienste dalk in die toekoms benodig gaan word.

Sy het 10kg in sewe dae verloor en ma Rika gebruik nou vitamienaanvullings om haar ‘tomboy’-dogter se herstelproses aan te help.

Haar operasies het elk drie ure geduur.

Rika het meelewend vertel van die Standerton-gemeenskap se ondersteuning in dié moeilike tyd.

“Ek het weer gesien hoe die mense op die dorp ander help.”

Beginnende by haar werkgewer wat grasie verleen het vir haar afwesigheid om aan Elizka se sy te wees, tot by ‘n onderwyser van Hoërskool Standerton wat vir Elizka ‘n vlakoek gebring het omdat dié jong meisie nog nooit ‘n stukkie daarvan geproe het nie.

Die kerke op die dorp het ook die Erasmusse onderskraag met gebede en selfs van Middelburg en Witbank, het ondersteuning gekom vir Rika wat soms alleen Pretoria toe moes ry.

Bloed is dikker as water en hulle familie het met raad en daad, asook liefde, die gesin bygestaan. Elizka sterk tuis aan en sal haar matriekjaar moet herhaal weens registrasieprosedures wat nagekom moes word.

Haar storie getuig van ‘n spesialischirurg wat kans gesien het vir ‘n oorvol teaterlys tot ‘n ma wat net seker wil maak sy slaan geeneen oor as sy dankie sê nie.

Me. Rika Erasmus waardeer die gemeenskap se bemoediging nadat kanker by Elizka gediagnoseer is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button