Local newsNews

Estelle en Tracy praat oor nierversaking, dialise en kanker

Een vrou het twee niere met agt persent nierfunksie, een vrou het geen niere meer nie

SECUNDA – Me. Estelle Swart en me. Tracy Fourie het albei nierprobleme en albei moet dialise ontvang, maar hul toestande en omstandighede verskil.

Me. Swart moet elke tweede dag of drie keer weekliks vir sowat vier ure by die dialise-kliniek op Trichardt gaan sit om haar dialise te ontvang terwyl me. Fourie self by die huis dialise toedien en vier keer daagliks vir ‘n uur moet stilsit om dié proses te voltooi.

Me. Swart het gesê baie mense vra vir haar hoekom sy nie soos me. Fourie by die huis dialise aan haarself kan toedien nie.

Haar paadjie met dialise het verlede jaar in Augustus begin nadat albei haar niere weens kanker vewyder moes word.

Sy het vir 34 jaar met kankerpasiënte gewerk en hulle ondersteun.

Sy is in 2016 met kanker in haar nier gediagnoseer en haar een nier en driekwart van haar ander nier is in dié jaar verwyder.

Die kwart nier wat me. Swart nog oorgehad het, het 53 persent nierfunksie oorgehad en dokters het verbaas gestaan hiéroor terwyl me. Swart dit as ‘n wonderwerk beskou het.

Sy het egter verlede jaar ook kanker in die oorblywende nier gekry en haar nier moes heeltemal verwyder word.

https://www.citizen.co.za/ridge-times/123328/estelle-swart-benodig-n-nieroorplanting/

Sy is op ‘n waglys om ‘n nier te ontvang, maar in Suid-Afrika moet sy vyf jaar wag omdat sy kanker gehad het.

Me. Swart oorweeg tans die moontlikheid om in Amerika ‘n nuwe nier te kry omdat ‘n mens daar net ‘n jaar hoef te wag nadat jy kanker gehad het en me. Swart kwalifiseer dus reeds om ‘n nier in Amerika te kry.

Me. Fourie se paadjie met dialise het in April vanjaar begin.

Sy is in 2017 vir die eerste keer met nierversaking gediagnoseer toe sy net agt persent nierfunksie gehad het.

Haar nierfunksie het, nadat sy vir twee weke in die hospitaal was, weer later verbeter na 17 persent en na 21 persent toe sy ontslaan is.

Dit het vir so jaar goed gegaan en haar nierfunksie het op 21 persent gebly, maar weer gedaal na agt persent toe sy deur ‘n moeilike tyd gegaan het en emosioneel was.

Me. Fourie het ook diabetes. Sy het op ‘n stadium dieëtpille gebruik en glo dit het ook haar nierfunksie aangetas.

“Ek het al agtergekom as ek emosioneel ontsteld is, daal my nierfunksie,” het me. Fourie gesê.

Me. Swart kan nie soos me. Fourie dialise tuis ontvang nie omdat sy ‘n sny op haar maag het en daar nie plek is om die sakkie wat me. Fourie op haar maag moet sit, te plaas nie.

Me. Swart volg ‘n streng dieët en mag geen sout eet nie en net kos wat op ‘n spesifieke manier voorberei is.

Sy het haar man, mnr. Koos Swart, bedank vir sy ondersteuning en hulp om haar kos voor te berei en seker te maak hy is ingelig oor haar toestand.

Me. Fourie het gesê me. Swart het haar geïnspireer om ook ‘n beter dieët wat meer geskik is vir mense met lae nierfunksie, te volg.

Me. Swart kan nie urineer nie en mag net ‘n sekere hoeveelheid vloeistowwe daagliks inneem.

Me. Fourie kan nog urnieer, maar baie min en moet ook die hoeveelheid vloeistowwe wat sy inneem daagliks, dophou.

https://www.citizen.co.za/ridge-times/143484/tracy-fourie-veg-teen-diabetes-en-nierversaking/

In me. Swart se geval, is dit die masjien by die dialise-kliniek wat haar dialise toedien en die vloeistowwe in haar liggaam sirkuleer omdat sy nie kan urineer nie.

In me. Fourie se geval kan sy haar maagwand gebruik met die hulp van ‘n 2liter-sakkie om die vloeistowwe in haar liggaam te reguleer en dialise toe te dien.

Me. Fourie wil aansoek doen vir ‘n masjien wat sy snags terwyl sy slaap aan haar gaan koppel en nie haar lewe bedags gaan beïnvloed nie.

“Ek raak depressief omdat ek nie kan werk nie, want ek moet vier keer daagliks dialise toedien en dit neem soms tot ‘n uur,” het me. Fourie gesê. Ek wil graag weer werk en iets positiefs bydra tot my gemeenskap.”

Me. Swart is dankbaar dat sy nog lewe en glo die Here het die afgelope drie jaar tot haar lewe gevoeg.

“Ná die eerste operasie wat ek gehad het, het die dokter nie veel hoop gehad dat ek nog sou lewe nie,” het me. Swart gesê.

Sy is ‘n DA-raadslid en kan nog haar werk as raadslid doen, maar sy kan nie meer raadsvergaderings bywoon nie omdat sy vinnig moeg word en nie meer kan trappe klim nie.

Govan Mbeki Munisipaliteit het nie geriewe vir gestremdes of mense met rolstoele nie.

“Elke dag is ‘n geskenk van bo en ek maak die meeste van dit,” het me. Swart gesê.

Me. Fourie het gesê me. Swart motiveer haar en laat haar besef sy het baie om voor dankbaar te wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button